General

Sonskynoord verloor ‘n (son)straaltjie

THABAZIMBI – Een van Sonskynoord se inwoners, ouma Anna du Plessis, is op 5 April oorlede en op Vrydag 11 April deur ds Gert Kok uit die NG Kerk begrawe.
Ouma Anna, wat die rype ouderdom van 81 bereik het, was vir 58 jaar getroud met oupa Philip du Plessis. Hulle het die grootste gedeelte van hul getroude lewe in Bloemfontein gewoon waar oupa Philip vir die staat gewerk het.
Hulle het egter in Thabazimbi kom aftree waar twee van hul kinders, Christine Reyneke en Nico du Plessis, woon. Behalwe vir Christine en Nico laat ouma Anna nog twee dogters, Annelie Barnard van Bethlehem en Ronel Els van Johannesburg, agter. Sy laat ook 14 kleinkinders en 2 agterkleinkinders agter.
Dat haar familie haar sal mis, was duidelik uit die skriftelike bydraes van die kinders en kleinkinders tot die begrafnisbrief. Hulle praat van ouma Anna se sop en muffins, haar hart van goud, die raad en raas (met oupa) en dis duidelik dat sy baie betrokke was by haar kinders en kleinkinders en  dat haar heengaan ‘n leemte sal laat in die familie.
Oupa Philip sal voortaan tuisgaan by sy dogter, Christine, in die Matlabas-omgewing.