Heerlike etes by Apiesdoringtent – Expo
THABAZIMBI – Die Apiesdoringtent bied hierdie jaar unieke etes aan by die Thabazimbi Expo van 1 tot 3 Mei.
Die “vroeg-uit-die-vere” persoon kan pap en kaiings, pap en wildslewer of pap en wors geniet saam met ‘n koppie boeretroos by die Apiesdoringtent van die Hervormde Kerk.
En dis nie ‘n kwessie van koop-en-loop nie. Daar is tafels en stoele waar feesgangers rustig hul Apiesdoring-etes kan nuttig.
Daar is ook spitbraai-geregte en ‘n verskeidenheid van groentes en ander bykosse vir middagete. Hier kan mens met bord in die hand, skep tot op die rand en betaal by die skaal.
Daar is ook wegneem-etes beskikbaar vir diegene wat verkies om die Apiesdoring-ervaring huis toe te neem. Etes wat weggeneem kan word, is wilds-“russians”, wildswors en wildspotjiedisse.
