THABAZIMBI – Hierdie jaar se 4×4 kompetisie by die Thabazimbi Expo vind plaas op 3 Mei en gaan in goeder trou ‘n uitdaging wees en vermaak verskaf aan deelnemers en toeskouers.
Die organiseerders beoog om die hoeveelheid modder te beperk maar waarsku dat dit onderhewig gaan wees aan die moontlikheid van laat reënbuie. En wat is ‘n ordentlike 4×4 baan nou sonder die regte hoeveelheid modder?
Deelnemers van sover as Botswana en Gauteng het baie positiewe terugvoer in 2007 gelewer, daar was selfs ‘n paar aspirant Olimpiese swemmers (toeskouers) wat die modder poele met groot geesdriftigheid aangedruf het.
Die kompetisie vind plaas by modderbad vier, boom nommer nege…vir diegene wat nie weet waar dit is nie ry verby Pick & Pay in ‘n oostelike rigting. Draai dan na die tweede afdraai pad regs in Hamerkopstraat in. Draai links by Delta/Excel vulstasie en volg die aanwysers.
Die hekke open om ses uur en inskrywings vind plaas vanaf sewe uur. Die eerste deelnemers spring stiptelik weg om nege uur.
Volgens die organiseerder Mnr. Francois Styl “is daar mos niks wat ‘n bietjie warm water en seep nie kan afwas nie!” Kontak hom gerus indien u enige navrae het in hierdie verband by 083 703 2334.
