Skaakkliniek by Laerskool
THABAZIMBI – ‘n Skaakkliniek vir leerders is op 11 en 12 April by die Laerskool Thabazimbi aangebied deur Anton Goosen, ‘n professionele skaakafrigter.
Ongeveer 55 leerders van Laerskool Thabazimbi, 17 van Laerskool Koedoeskop en 2 van Van Wykskraal het die kliniek bygewoon en meer geleer van verskillende openinge, vurke, spitte en ander goeie skuiwe.
Nadat die leerders die teoretiese onderrig gekry het, het hulle teen mekaar gespeel en toegepas wat hulle geleer het. Die skaakspelers is dit eens dat die kliniek baie leersaam was en dat hulle dit baie geniet het.
Die skaakorganiseerder by die Laerskool Thabazimbi, Hanti Vorster, het leerders by die laerskool weer eens uitgenooi om by die skool se skaakgroep aan te sluit. Daar is ook geleentheid vir leerders wat wil leer skaak speel. Maandae van 15:30 tot 16:30 is daar skaakoefening vir die beginners en Woensdae op dieselfde tyd oefen diegene wat reeds skaak kan speel.
Op Donderdag 17 April is daar ‘n skaakkompetisie teen Laerskool Platina in Swartklip. Op Vrydag 18 April neem die skaakspelers aan ‘n toernooi deel wat as deel van die Super 12 reeks in Florida plaasvind.