Gemengde uitslae by Amajuba
THABAZIMBI – Die eerste rugbyspan van Hoërskool Frikkie Meyer het goed gevaar by die Amajuba Sportweek wat van 23 Maart tot 3 April in Volksrus gehou is toe hulle al hul wedstryde gewen het. Die o/14A’s het twee van hul drie wedstryde gewen, maar die ander spanne het al hul wedstryde verloor.
Die o/14A-span het Hoërskool John Vorster (Nigel) 35-5 en Frans du Toit (Phalaborwa) 52-0 gewen. Hulle het egter 0-36 teen Hoërskool Voortrekker (Bethlehem) verloor.
Die o/15A-span het, ten spyte daarvan dat hulle al hul wedstryde verloor het, heelwat beter as verlede jaar gevaar. Hulle twee wedstryde teen John Vorster en een teen Hoërskool Voortrekker gespeel. Hulle het ook heelwat geleer van afrigters wat die Amajuba-sportweek bygewoon het.
Die 0/16A-span het ook al drie hul wedstryde verloor. Teen Volksrust was die telling 15-20, teen Hoërskool Stoffberg 7-27 en teen Fichardt Park 3-17.
Soos verlede week berig, het die eerste span al drie hul wedstryde gewen. Hulle het Hoërskole John Vorster 8-7, Reitz 15-14 en Richardsbaai 38-10 gewen.
Die Amajuba-Sportweek, waarna HFM reeds agt jaar uitgenooi word, word oor twee weke gehou, vir hokkie- en rugbyspelers. Die o/14’s en o/15’s het vanaf 23 tot 27 Maart hul wedstryde gespeel en die eerste en o/16-spanne van 30 Maart tot 3 April. Ongeveer vyftien skole van Vrystaat, Limpopo, KwaZulu en Mpumalanga woon jaarliks hierdie sportweek, wat reeds 25 jaar aangebied word, by.