Chris van Onselen se stem word stil
VAALWATER – Die afsterwe van die bekende Chris van Onselen sal beslis ‘n groot leemte laat op alle gebiede waar hy, uit die aard van sy persoonlikheid, altyd so ‘n prominente rol gespeel het.
“Groter as lewensgroot karakter wat jy vir altyd sal onthou” is die woorde waarmee Hannetjie Loots, ‘n medeteler, hom beskryf.
Chris is op slag dood in ‘n motorongeluk op 11 April op die pad tussen Vaalwater en Ellisras na ‘n vergadering op Bela Bela. Hy laat sy vrou, Claude en kinders Christo en Mariaan agter.
Vir jare lank was die stem van Chris van Onselen ‘n bekende in Suid-Afrikaanse huise. Na 14 Wimbledon’s en die helfte soveel Franse Opes en veel meer atletiek uitsendings, was Chris alom bekend. Vir 30 jaar lank was hy in die uitsaaiwese. Chris was op Tukkies ‘n atletiekafrigter na sy eie glorieryke loopbaan. Vanaf 1990 tot 1998 was hy hoofbestuurder van Sanlam.
Chris en sy vrou Claudie het vir meer as 25 jaar saam geboer. Chris se liefde vir sy gunsteling beesras, rooi Brahmane, was alombekend. Sy stoet, Chriselen, is goed bekend vir die prestasies en die kwaliteit genetika wat daaruit na vore gekom het. Die invloed wat Chris op die Brahmane van Suid-
Afrika gehad het, sal nog lank voortleef in die nasate van sy geliefde beeste. Hy het dan ook gereeld met talle trofeë by landbouskoue weggestap.
Volgens Hannetjie Loots is sy dood ‘n ongelooflike groot verlies vir die Brahmanbedryf waarin hy onguitwisbare spore getrap het. “Soveel ander telers sal hom met groot waardering onthou vir sy kennis, raad en onseflsugtige bydrae tot soveel jonger telers se stewige wegspring.” Mnr Kenny Crampton, radirekteur van Brahman SA het ook sy skok uitgespreek. Hy glo dat die verlies ‘n tragedie vir die ras en kennisse van die besondere man is.
Baie mense het gewonder of hy die kollig, die besige lewe met drie beroepe en sosiale funksies sou kon verruil vir ‘n lewe op ‘n plaas tussen Ellisras en Vaalwater. Maar dit was vir almal wat hom geken het, duidelik dat hy op sy gelukkigste hier was, by sy gesin, tussen sy beeste, betrokke binne die gemeenskap of op die gholfbaan.
Die stilte om ons in die afwesigheid van hierdie besondere man, sal nog lank in almal se ore weergalm.