General

Bestuurder van “perlemoenbakkie” dood

LEEUPOORT – ‘n Bestuurder wat oppad Bela-Bela toe was, is Dinsdagoggend dood toe die bakkie waarin hy was van die pad gery het. Die impak van die ongeluk het  die bakkie se vrag oor die ongelukstoneel versprei – ‘n hele aantal sakke vol gevriesde perlemoen.
Ettienne le Roux (29) waarskynlik van Port-Elizabeth het sowat 6 km van Leeupoort Vakansiedorp vermoedelik aan die slaap geraak toe die bakkie die pad verlaat en omgeslaan het. Agter op die voertuig was matrasse en ‘n bedbasis waarin die perlemoen vervoer was. Die impak van die ongeluk het veroorsaak dat die vrag oor die ongelukstoneel versprei gelê het.
Omdat die ondersoek tans aan die gang is, was die Rooiberg Polisie slegs bereid om te sê dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word. Hulle was nie bereid om kommentaar te lewer oor die wettigheid van die perlemoen nie. Verbygangers het wel kommentaar gelewer dat daar “duisende rande” se perlemoen rondgelê het.