Veelsydige kunstenaars vir jou vermaak by die Thabazimbi Expo
THABAZIMBI – Verskeie van die groot name in Afrikaanse musiek gaan hierdie jaar tydens die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo, of beter bekend as Die Wildsfees, optree. Die Fees skop dan ook Donderdag 1 Mei af met Kurt Darren om 19:00 op die hoofverhoog.
Voorwaarts Mars, Kurt Darren se dertiende album, sal sekerlik sy aangangers trek en is hierdie dan ook een van die eerste lewendige vertonings nadat die album die lig gesien het. Met hierdie album verfyn die liedjieskrywers Kurt Darren, Don Kelly en Marc Brendon, met produksie deur Robin Kielly en Kurt Darren die bekroonde wenformule. Die resultaat is luisterryke dansmusiek met ‘n vriendelike ritme. Naas die titelsnit is die gewisse dansvloerknakkers die prettig-speelse snit Daar doer in die donker, die pure rock-‘n-roll-snit Dans met my – dis Saterdagaand en die boerejolvreugdesnit, Boeretroue – met konsertina-toonkrulgenot.
Kurt is uiteraard een van die blinkste vertolkers van die rustige ballade. Die oorspronklike werk sluit in die innige liefdesprentjie Tasse vol van gister en die omgee-kinderliedjie Priceless moment, aanvanklik opgeneem ten bate van liefdadigheid. Hy doen ook die meevoerende Mel Botes-komposisie Langebaan se blou more douvars.
Kurt se vertoning word opgevolg met een van die groot boeremusieklegendes, Ollie Viljoen wat saam met een van die groot manne van bluesrock, Valiant Swart die verhoog gaan deel.
Hulle het pas die opnamesessies van hul eerste gesamentlike album, getiteld Vuur en Vlam voltooi en gaan Donderdag 1 Mei tydens die Thabazimbi Expo op die hoof verhoog optree. Ollie speel akkordion, klavier en Hammond-orrel, terwyl Valiant sing en die kitare speel.
Hulle optrede bestaan uit ‘n handvol tradisionele boeremusiek en volksliedjies, asook ‘n dosyn splinternuwe skeppings. Daar is byna ewe veel instrumentale as vokale nommers, oorwegend in die volks- en boeremusiek idioom, afgewissel met invloede uit die twee kunstenaars se gedeelde passie vir blues en cajun/jazz/sigeunermusiek.
Twee sonderlinge insluitings is opnames van liedjies van George Snyman, ‘n tuinier en houtkapper van Malgas. George, self ‘n kitaarspeler, en Valiant het ‘n paar jaar gelede ontmoet en haal gereeld die kitare uit om saam musiek te maak. Valiant en Ollie het besluit om van George, oftewel “Oom Jolla”, se liedjies op te neem, en die resultaat, gesing in die oorspronklike streeksdialek, is werklik iets besonders – aards en eerlik.
Nog ‘n interessante toevoeging is Valiant se toonsetting van die G.A. Watermeyer-gedig “Ballade op die dronkparty”. Die gedig is oorspronklik in 1948 in die bundel “Sekel en Simbaal” gepubliseer, en was ‘n natuurlike keuse vir toonsetting, aangevuur deur Ollie en Valiant se gelyke liefde vir Afrikaanse poësie, Bolandse rooiwyn en goeie ou samesyn.
Dan is daar natuurlik die beminlike Juanita du Plessis wat die afgelope tyd vir heelparty musiektoekennings in aanmerking gekom het. Juanita is Suid-Afrika se platinum-meisie. In net 6 jaar het sy Suid-Afrika se top Afrikaanse vroue-kunstenaar geword. Haar algehele verkoopsyfer sal in 2008 die miljoen-syfer merk bereik met 2 trippel platinum en talle dubbel platinum, en platinum albums agter haar naam.
Haar DVD “Juanita du Plessis – In konsert op haar beste” het goue status bereik, slegs 1 maand na uitreiking, en is ook al aangewys as die Top-Afrikaanse musiek DVD verkoper van alle tye, wat op dubbel Platinum staan. Haar tweede Gospel album, Vlieg Hoog, is aangewys as die Top Afrikaanse Gospel verkoper van alle tye, met alreeds 130 000 eenhede.
Daarby is sy tot op hede, die enigste vroulike kunstenaar wat nommer 1 op die Amptelike SA Top 20 kon beklee, en vir 3 agtereenvolgende weke daar kon bly.
Juanita het vir twee agtereenvolgende jare die Huisgenoot Tempo toekennings se Mees Stylvolle vroulike kunstenaar, asook vir drie agtereenvolgende jare, die toekenning vir Gunsteling Vroulike Kunstenaar verower. (Hierdie toekennings word deur die publiek aangewys).
2008 is ‘n groot jaar vir Juanita want sy vier haar 10de jaar in die musiekbedryf. Juanita tree Vrydagaand 2 Mei vanaf 20:15 tot 21:15 op die hoofverhoog op. Moet dit nie misloop nie.
Beeskraal tree elke aand van die Wildsfees op en is op 1 en 3 Mei elke aand laaste aan die beurt sodat daar lekker saamgedans kan word. Hulle is ‘n erkende Afrikaanse rockgroep van Pretoria. Die groep bestaan alreeds sewe jaar lank en het al diep spore in die Suid-Afrikaanse musiek bedryf getrap.
Nege jaar gelede het Beeskraal hulself as een van Suid-Afrika se grootse groepe gevestig. Verskeie media het die groep as revolusionêr bestempel, en dit was ‘n nuwe era vir Afrikaanse Rockmusiek. So het die groep dit weereens bewys met hul nuuste album, Innie (Sper) Vuur. Dié album is die Beeste se vyfde op hul kerfstok en gewis die beste.
Daar is baie navorsing gedoen deur Beeskraal aangaande die nuuste giere en groepe op die internasionale front. Dit kan mens duidelik op Innie (Sper) Vuur hoor. Die produksie is van internasionale standaard maar tog Suid-Afrikaans. Daar is ‘n duidelike positiewe groei sedert hul laaste suksesvolle album Plaasdorp. Die vakmanskap op die instrumente en die verwerkings van die songs is alleen al ‘n bonuspunt vir dié ongelooflike album. Maar deur al die nuutheid en groot produksie het Beeskraal na aan hulself gebly-‘Rock ‘n Roll’.
Innie (Sper) Vuur is gewis een van 2006 se bestes en sal Beeskraal weereens vooraan die industrie se linie vestig.
Die songs is ‘n lewering van sosiale kommentaar en ‘n uitkyk op die onmiddellike gemeenskap waarin ons leef. Daar is baie sterk aangedrewe kitaarwerk wat met sterk melodieë op die bass afgewissel word. Die hele album is melodies en het ‘n harde rock aanslag. Die fokuspunt van die album kan gevestig word op die ‘AF’ song wat kenmerklik op dié program op Mk89 verskyn. Die album is baie uiteenlopend en die songs wissel van ballades, hard rock tot tradisioneel. Daar is ouderwets ook besluit om die ondersteuners gelukkig te hou en twee tradisionele songs het Beeskraal skop gekry nl. Blinkvosperd en Pieringoog se Pa(vir kykNet se Die Liedjies Wat Ons Ken).
Beeskraal bestaan uit Charles Smidt (sanger, liedjieskrywer en kitare), Michael van Zyl (drums, backing vox en perkussie), Mauritz Roos (bass) en Jasper van Rensburg (session, bass, tenor bass en producer).
Chris Chameleon is sekerlik die grootste vermaaklikheidspleister tydens vanjaar se Thabazimbi Expo. Chameleon sal Saterdag 3 Mei vanaf 20:15 tot 21:15 op die hoof verhoog op die rugbyveld optree. Met sy vier-oktaaf stem, sy unieke styl en ongelooflike talent het hy reeds veertien indrukwekkende toekennings gedurende die laaste jaar ontvang. Dit sluit ‘n SAMA toekenning sowel as ‘n Ere medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in. Gedurende die laat negentigs was Chris Chameleon die kroon van die groep “Boo!” een van Suid-Afrika se trotse musikale uitvoerprodukte. Die groep het ‘n uitgebreide kultus navolg gehad by die 800 gigs in die sewentien lande waar hul gedurende sewe jaar opgetree het, insluitend veertien state van die VSA en lande soos Hongarye en Kroasië. In 2004 het Chris Chameleon sy Suid-Afrikaanse drade opgetel met “Ek Herhaal Jou”, ‘n toonsetting van die befaamde 60tiger digter, Ingrid Jonker. Waar hy waarskynlik die grootste aanklank gevind het was met sy rol van Liam in 7de Laan. Die album 7de Hemel het dan ook Platina-status binne 2 maande van sy vrystelling verkry. Moet dus nie vir Chris Chameleon Saterdag 3 Mei op die hoofverhoog misloop nie.
Hierdie is beslis nie ‘n vertoning wat jy kan bekostig om mis te loop nie.
Dozi is hierdie jaar weer terug op Thabazimbi en meer spesifiek, by die Wildsfees. Hy is die kersie op die koek Saterdagaand 3 Mei en tree vanaf 21:30 op.
Henk, die jongste kind van Theuns en Susan Opperman, is gebore in Hluhluwe, waar hy vlot Zoeloe leer praat het by sy Zoeloe maatjies op die plaas. Sy ouers verhuis na ‘n plaas naby Standerton, toe hy ses jaar oud is. Hy gaan op Leslie skool en voltooi sy skoolloopbaan op Evander. Op skool tree hy alreeds by verskeie geleenthede op, want daar was nog altyd geen ander loopbaan vir Henk as om musiek te maak nie.
Nadat hy sy diensplig voltooi het, studeer hy grafiese ontwerp aan die Technikon Pretoria. Dit is hier waar hy die bynaam van Dozi kry, omdat hy baie lief was vir slaap. Hy sluit daarna aan by die polisie orkes onder leiding van Hansie Roodt en na jare se harde swoeg en sweet, word sy eerste album uitgereik in 1999.
Hierdie album, “Mercy” is ‘n geestelike Zoeloe album en in 2000 word sy eerste Afrikaanse album “Op Aanvraag” uitgereik. Dit is ‘n treffer en meer as 100 000 kopieë word verkoop wat die album dubbel platinum status laat bereik.
Dozi se nuutste Afrikaanse album, “Kruispad” is vrygestel gedurende Aardklop 2004. Hierdie album word goud kort na uitreiking. “Kruispad” weerspieël Dozi se veelsydigheid as kunstenaar en sy vermoë om elke liedjie, hetsy ernstig of humoristies, uit die hart uit te sing.
Dozi tree op saam met sy eie orkes, wat sy reeds gewilde optredes ‘n afgeronde en opwindende klank gee. Die orkes bestaan uit Naas Hefer op perkussie en tromme, Ricus Nel op elektriese kitaar, banjo, konsertina, mandolien en “pedal steel” kitaar, Jasper Janse van Rensburg op baskitaar en vanaf die einde van 2006, Rainer Jadiscke op klawerbord. Die orkes tree voltyds saam met Dozi op en saam gaan hulle nog ver paaie loop.
Nog ‘n gewilde nuweling op die Wildsfees Spyskaart is Jakkie Louw wat tot dusver ‘n fenominale loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiek industrie gehad het. Sy nuwe CD “Alles in een Glas”, is genomineer as Beste Rock Album 2006 by die Oskar Musiek toekennings. Hy is ook bekroon as die Beste Nuweling 2006. Met liedjies soos “Drie Pikkewyne” kry Jakkie letterlik jonk en oud aan die sing. Daar word al gespot dat dit onmoontlik is om te bly sit as hierdie sanger op die verhoog kom. Sy energie is ongelooflik en sy band skop. By groot feeste sing Jakkie treffers van sy baie suksesvolle CD asook van die ou bekendes. Sy show word landswyd beskou as een van die “mees vermaaklike” Afrikaanse vertonings.
Jakkie is gebore op Oudtshoorn en het grootgeword in Bellville in die Kaap. Sy pa, Ds. Nico Louw, was ‘n predikant by Kenridge Gemeente Durbanvile. Jakkie het in 1997 gematriekuleer by Hoerskool DF Malan. Hy het daarna gaan studeer op Stellenbosch in die Graad B.Comm Bestuursrekeningkunde. Hy het in 2001 verhuis na Pretoria om sy musiekloopbaan daar voort te sit. Sy CD, “Alles in een Glas” het baie deure vir Jakkie oopgemaak. Die CD bevat oorspronklike liedjies soos “Drie Pikkewyne”, “Rambo die Polisiehond”, “ Ek en jy en ‘n Bottel Tas” asook Anton Goosen se “Pampoene op die Dak” (‘n duet met Anton Goosen). Jakkie se program raak al hoe besiger en geesdriftige mense kom aand na aand uit om hierdie talentvolle sanger te sien.
Jakkie Louw is uitgenooi om op te tree op die bekende sepie, Sewende Laan op te tree en die program word in Maart 2007 uitgesaai. Jakkie en sy band is ook van plan om hulle vertoning na elke fees in Suid Afrika toe te neem. Verskeie feesorganiseerders sal saamstem dat ‘n fees nie kan werk sonder een van die top Afrikaanse sangers nie. Jakkie Louw is een van hierdie sangers.Die Jakkie Louw Band is ook van plan om vir ten minste 6 maande van 2007 op toer te wees. ‘n Kort trip London toe is ook in die beplanningsdagboek. Hulle is Vrydagaand 2 mei vanaf 19:00 tot 20:00 op die verhoog en gaan jou beslis deeglik vermaak.
Laaste maar nie die minste nie is die gewilde Kwêla-aanbieder, Pieter Koen, wat vir die hele tydsduur van die Expo daar is om almal te vermaak.
Pieter is vanjaar weereens die kontinuïteitsaanbieder tydens die Thabazimbi Expo en beloof om, net soos tydens die vorige geleentheid toe hy as aanbieder tydens die Expo opgetree het, beslis baie gewild onder feesgangers te wees. Die Thabazimbi Expo word vanjaar vanaf Donderdag 1 Mei tot Saterdag 3 Mei by Thaba Park in Thabazimbi aangebied.
Pieter Koen se splinternuwe album Tattoo kook. Dit is ‘n viering van die lewe. Almal sal ook die geleentheid kry om hom ‘n paar snitte van hierdie nuwe album van hom te hoor sing. Die album dra die stempel van liefde en geluk, met heelwat lirieke wat in samewerking met Pieter se vrou, Lotie, geskep is. Die resultaat is ‘n vars, ánderse kykie na verhoudings en die lewe – met heelparty juwele hierop.
Naas die polsende humorliedjie Tattoo, wat met reuse-gewildheid by die laaste Aardklopkunstenfees getoets is, is daar ‘n rits ander vreugdeliedjies – van Hey, Heyto Patato, Wil Wil Jy (Of Wil Jy Nie), Oe La La La (Jy’s Die Een), Die Party Gaan Nou Begin en die vrolike liedjie Dis ‘n Fees Fees Fees.
Tussen die bekoorlik ritmeballades is die snitte Alles Klaar, Ek is Vry, Ek Sal Daai Aand Mos Nooit Kan Vergeet Nie, Skoon Verlore, Een Duisend Maal en Ek Is Lus Vir Jou.
En daardie vashoulus word bevestig op Pieter se polsweergawe van She’s In Love With You.
Die trefferliedjieskryfduo Marc Brendon en Don Kelly het oudergewoonte waardevolle insette gelewer en Pieter self was vaardig met die liriekpen.
Tussen die treffende ballades is die liedjie Jòvan, opgedra aan Pieter en Lotie se seuntjie. Die bekroonde liedjieskrywer en sangeres Nianell het die meevoerende melodie hiervoor geskryf.