Snaakse voorwerpe en beurtkrag
THABAZIMBI – Dat een ongeïdentifiseerde voorwerp wat een van die inkrollers penetreer het soveel skade en deurmekaarspul kan veroorsaak is byna ondenkbaar. Tog is dit wat Donderdagnag met die drukpers gebeur het. As ‘n mens dit maar aan gekkedag (of week) kon toeskryf was dit nou ‘n heel anders saak. Feit is maar net dit dat met een drukpers buite werking, kon die ander drukpers eenvoudig nie alleen die mas opkom nie. Daarmee saam die afwesigheid van ‘n drukpersoperateur, en amper het verlede week se koerant as ‘n Sondagkoerant die lig gesien. As gevolg van die nie meer so geoefende hand, is bladsy 3 bietjie naby aan die middellyn gedruk en het bladsye 2 en 11 sommer plekke geruil. Op die einde van die dag was die koerant uit, al het sy plekkie op die rakke vir ‘n halwe dag of wat leeggestaan. Maandag is daar naarstiglik na ‘n vervangensroller gesoek en uiteindelik is een in Johannesburg opgespoor. Thys de Beer, die man van Pretoria wat altyd die onderhoudwerk op die masjien doen, was vanaf die eerste oproep Vrydag gereed om te help om die drukpers op lyn te kry en teen Dinsdag, net voor die beurtkrag weer ingetree het was beide masjiene gereed vir drukwerk. Ongelukkig speel beurtkrag ‘n groot rol in die produksie van die koerant en terwyl dit toegepas word kan dit gebeur dat die koerant ‘n bietjie later as gewoonweg afgelewer word. Nou wag ons nog net op ons kragopwekker.