Skedules vir beurtkrag beskikbaar
THABAZIMBI – Beurtkrag, hoewel nog steeds ‘n doring in ons vlees, word reeds beter aanvaar deur Jan Alleman. Mense raak aan die toestand gewoond, maar daar is darem nou skedules beskikbaar en mense kan hul dag volgens verwagte kragonderbreking beplan.
In vandag se koerant is ‘n invoegsel van Eskom waarin aangedui word watter areas wanneer sonder krag sal sit as gevolg van beurtkrag.
Dit blyk dat diegene wat hul krag van die Thabazimbi Munisipaliteit kry Dinsdae, Donderdae en Saterdae van 14:00 tot 16:30 beurtkrag ondervind. Dele van Regorogile, wat hul krag direk van Eskom kry sal Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 06:00 en 08:30 geen krag hê nie.
Die Vaalwater-lyn en Rooiberg sit ook sonder krag op Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 06:00 en 08:30. In Northam in die dorp op die NE, RL en NDP-lyne word beurtkrag ondervind tussen 18:00 en 20:30 op Dinsdae, Donderdae en Saterdae. Buite Northam ervaar die boere op die KA, KK, RK, DK, DL en DB-lyne kragonderbrekings op Dinsdae, Donderdae en Saterdae tussen 06:00 en 08:30. Leeupoort Vakansiedorp ervaar kragonderbrekings ook op hierdie tye.
Volgens die inbelsentrum word hierdie beurtkragtye tot die einde van April toegepas, waarna dit hersien mag word.
Volgens die invoegsel, wat deur Eskom uitgegee is in al die koerante, is die hoogste verbruik in huishoudings tussen 07:00 en 10:00 en 18:00 en 21:00, omdat dit die tye is wat daar gekook en gewas word, en ligte aangeskakel word. Dit is hierdie tye wat die kragreserwes laag is. Elke bietjie krag wat deur individue gespaar word mag ‘n verskil maak. Die voordeel is dat deur besparing daar later, hopelik, ononderbroke kragvoorsiening sal wees. Dus moet daar nou bespaar word vir môre.
Wanneer die Power Alert op SABC 1,2 en 3 die bruin kleur vertoon, word beurtkrag toegepas. Die invoegsel bevat ook wenke oor hoe om krag in huishoudings te bespaar.
‘n Geyser-kombers kan help om afkoeling te keer en die termostaat kan laer op 50-60 grade C gestel word.
Almal weet reeds van die kragbesparende gloeilampe wat gebruik kan word en die gebruik van die regte verwarmers is ook belangrik. Infrarooi en olie-verwarmers is meer effektief en die veiligste om te gebruik. Net genoeg water vir koffie en tee moet gekook word, die ketel moenie volgemaak word elke maal wanneer een koppie koffie gemaak word nie.
Maak seker dat potte en panne die hele warmplaat bedek. Maak inhoud van pot warm op hoë hitte, maar skakel dan dadelik laer sodat inhoud kan prut. ‘n Drukkoker gebruik ook baie minder krag wanneer kos oor ‘n lang tyd gekook moet word. Yskaste en vrieskaste moet gereeld ontvries word. Maak seker dat hierdie toerusting se seëls in orde is en dat yskaste en vrieskaste goed toemaak.
Daar is ook wenke hoe om voorsiening te maak vir tye wanneer beurtkrag ondervind word soos om kookwater in warm flesse te hou, betyds maaltye voor te berei en gassilinders byderhand te hou.