Agricultural

Renosters ly onder gierigheid

CUMBERLAND – In die Waterberg-area is twee renosters die afgelope maand geskiet, waarvan een dood en die ander gewond is.
‘n Renosterbul ter waarde van R500 000 is sowat drie weke gelede op die plaas Waterval van Hennie Enslin in die Rooibokkraal-omgewing naby die Botswana-grens geskiet. Sy horings is afgesaag. Op 23 Februarie is ‘n renosterbul op die Matswani Wildsplaas naby Vaalwater gewond, maar iets moes die wilddiewe gesteur het, want die renosterstropers het die pad gevat, die renoster is behandel en gered.
Die renosterbul wat in Rooibokkraal geskiet is, het heelwat beweegruimte gehad op ‘n 1000ha-kamp. Hy is geskiet sonder dat die plaaseienaar of –bestuurder dit  dit besef het vir ‘n paar dae. Tydens die plaaseienaar se seun se besoek aan die plaas sowat twee weke gelede het hy agtergekom dat een van drie renosters op die plaas nie opgespoor kon word nie. Toe hulle ondersoek instel is op die dooie renoster met afgesaagde horings afgekom. Van die twee oorblywende renosterkoeie is een ook deur haellood beseer, vermoedelik om die koei weg te hou van die wildstropers terwyl hulle met die bul besig was. Haar kort horings het waarskynlik haar lewe gered.
Daar is onlangs in ‘n dagblad berig dat twee renosterstropers verlede Woensdag in die hof verskyn het nadat twee witrenosters in die Kruger Wildtuin doodgeskiet is. Drie wilddiewe is met behulp van ‘n wildtuin-helikopter vasgetrek. Twee jaggewere en vier renosterhorings is in die stropers se besit gevind. Die derde verdagte was in die hospitaal.
Dit blyk asof wildstropery die afgelope maand skielik weer vlamgevat het. Hoewel ‘n totale verbod op die beweging van sekere diereprodukte, soos renosterhoring, bestaan, het die ontstaan van nuwe roetes na die ooste via oos-Europa die streng beheer omseil.
Enige iemand met inligting kan speurder-inspekteur Capy van Dyk van Thabazimbi se Veediefstal-eenheid by 078 251 0860 skakel. ‘n Beloning word aangebied vir enige inligting.