Tydens die 2008 Absa/Agri Securitas Gholfreeks se bekendstellingsfunksie buite die Paarl, het verskeie maatskappye hulle ondersteuning aan die trustfonds toegesê. Absa het aangekondig dat hy vir die tweede agtereenvolgende jaar die naamborg van die gholfreeks sal wees. Santam Agri het aangekondig dat hy die hoofborg van die gholfreeks sal wees.
Die voorsitter van die trustfonds, Japie Grobler, sê “Die boeregemeenskap het waardering vir die ondersteuning wat die maatskappye aan die fonds toegesê het, en hulle bevestig hierdeur die belangrike rol wat die landbou in Suid-Afrika vervul.” Hy sê voorts “dat ‘n veilige platteland belangrik is vir volgehoue landbouproduksie, die skep van werksgeleenthede en die bevordering van ekonomiese groei in die gebied.”
By die bekendstellingsgeleentheid het die volgende maatskappye hulle nasionale borgskap van die gholfreeks bevestig: Barloworld Motor, Mutual & Federal Agri, Alexander Forbes, Total SA, Pfizer, Ford SA, Landbouweekblad, Farmer’s Weekly, Beyerskloof en Clover.
Die koste van misdaad vir die ekonomie van Suid-Afrika word op 18,9% van die Bruto Binnelandse Produk geraam volgens die Wêreldbank se verslag van 2005. Die direkte koste van misdaad vir die landbou is op R1 miljard gedurende 2002 deur Statistiek SA geraam, maar die syfer kan nou aansienlik hoër wees. Naas die koste van misdaad, is sedert 1991 tot 2007 meer as 1 500 moorde op plase gepleeg in nagenoeg 10 400 plaasaanvalle.
Die Agri Securitas Trustfonds van Agri SA het sedert sy ontstaan in 1999 reeds meer as 75 misdaadbestrydingsinisiatiewe befonds in die boerderygebiede van Suid-Afrika in ‘n poging om ‘n veiliger omgewing vir die boeregemeenskap te skep. Sodanige inisiatiewe sluit in ‘n pro-aktiewe misdaadinligtings-insamelings-insitiatief in vennootskap met die SAPD wat gelei het tot die voorkoming van meer as 128 plaasaanvalle binne twee jaar in die Vrystaat. Die verskaffing van radio’s en herleistelsels wat ten doel het om kommunikasie in noodsituasies te verbeter en om misdaadvoorkomingsoperasies te bestuur. In die Oos-Kaap is valhekke met die goedkeuring van die provinsiale regering geïmplementeer om die beweging van voertuie met behulp van die polisie te monitor. Ten einde misdaad pro-aktief te bekamp het die Fonds inligtingsbrosjures in samewerking met die SAPD gefinansier om boeregemeenskappe van veiligheidswenke en misdaadvoorkomingsmaatreëls te voorsien. Laastens, finansier die fonds ook traumaberadingswerkswinkels waar slagoffers van landelike misdaad berading ontvang en waar die polisie en maatskaplike werkers opgelei word om traumagevalle te hanteer.
Die eerste gholfdag in die reeks van nege vind op 15 April 2008 by die Benoni Lake Gholfklub in Gauteng plaas. Vir meer inligting oor die gholfreeks kan Lans Pepler by 021 872 8539 en e-pos progolfm@telkomsa.net gekontak word
Die datums vir die gholfreeks is beskikbaar op die volgende webtuiste www.agrisa.co.za en klik op gholfreeks 2008.
Uitgereik deur Direktoraat: Korporatiewe Skakeling
