General

Obaro Tuinboudag wek belangstelling

THABAZIMBI – Obaro Thabazimbi het Saterdag ‘n baie geslaagde en interessante tuinboudag by die plaaslike winkel gehou. Die dag is in samewerking met Obaro Dwaalboom, Effekto en verskeie ander borge aangebied.
Buiten die insiggewende praatjies, was daar ‘n wye reeks van plante wat ook te koop aangebied is. Die tuindag is hoofsaaklik deur die vroulike geslag ondersteun en dit wil so al lyk asof die dames meer as die manne met hul hande in die tuin woel.
Besoekers kon meer inligting aangaande plantsiektes en -peste bekom en baie nuttige inligting is uitgeruil. Effekto het probleme wat in hierdie deel van die wêreld algemeen ondervind word bespreek en het ook breedvoerig op die dames se vrae uitgebrei. Wees maar seker, vir enige pes of plaag in die tuin het hulle ‘n oplossing.
Een van die hoogtepunte van die dag was die praatjie deur Cecil Thompson van The Growing Business – Landscape Technologies wat meer vertel het oor hoe om ‘n tuin wat min water gebruik te beplan en te onderhou.
Voor die praatjies aangebied is kon kliënte die plante besigtig en is daar ook ruimskoots aangekoop. Na die praatjies is daar met nuwe lig na die tuin gekyk en sommer nog ‘n klompie plante is aangekoop.
Obaro Thabazimbi en Dwaalboom beoog om ‘n tuindag een keer per maand aan te bied. Uitstappies na plekke soos ondermeer Ludwigs Roses, om meer van die snoei van roosbome te leer, word ook op ‘n gereelde grondslag beplan. Meer hieroor in volgende week se vroueblad.