General

Maak waterbesparing deel van jou tuin

Met waterbeperkings voor die handliggend, moet tuiniers indringend na hul tuine se waterverbuik kyk. Om hierdie rede het Obaro een van die groot name in tuinuitlegtegnologie, Cecil Thompson van The Growing Business, uitgenooi om tuiniers meer aangaande droogtetuine in te lig.
Inheemse plante is gewoond aan min water terwyl die eksotiese plante wat vanaf die reënwoude ingevoer word, hopeloos te veel water gebruik.
Suid-Afrika is, anders as Zambië verder noord, ‘n droogteland. Met sy vinnig groeiende bevolking gaan daar in die nabye toekoms groot waterskaarstes ontstaan. Die beskikbare water sal vir hierdie groeiende bevolking opgeraap word. Die tendens met landskapargitektuur is reeds dat meer as 75% van die plante wat gebruik word in nuwe tuine en landskappe, inheems moet wees, juis oor hul vermoë om met min water oor die weg te kom.
Cecil het ‘n paar nuttige feite genoem waardeur jy die waterverbruik in jou tuin tot met 75% kan verminder. Deur tuinafval soos grassnysels en takke weg te ry, mors jy nie net geld nie maar ook elektrisiteit en water. Gebruik die grassnysels en blare wat afval as deklaag in jou tuin. Hierdeur voorkom jy verdamping en gebruik jy minder water. Aangesien elektrisiteit gebruik word om die water na die woongebiede en stede te pomp, doen jy Eskom ‘n guns om minder water te gebruik. Hierdie deklaag verhoed ook dat onkruidsaad ontkiem. Deur te verhoed dat die saad ontkiem, is daar dus nie ander plante wat meeding om dieselfde watervoorraad nie. ‘n Besparing van tot 75% van jou totale waterverbruik kan hierdeur bewerkstellig word.
‘n Interessante feit is dat plante se voedingswortels is geleë in die boonste sowat 10cm van die grond. Die res is ankerwortels wat die plant, hetsy blom, struik of boom, in die grond moet vasanker. Hierdie boonste laag van die grond moet beskerm word. Weereens speel die deklaag ‘n groot rol. Dit isoleer die boonste grondlaag om te verseker dat die temperatuur, veral in die Bosveld waar die wintertemperatuur van uiters warm na onder vriespunt kan daal, nie te diep onder die grond daal nie. Indien dit sou gebeur kan die wortels vries en tot skade aan die plant lei.
Bome wat uitgeplant word moet net so diep geplant word as wat dit in die houer waarin dit was, geplant was. Al steek daar wortels uit, plant dit net so. Bas wat onder die grondlaag geplant word vrot maklik en daarmee saam vrek die plant. Sover dit die plant van bome aan betref het Cecil ook met ‘n uiters praktiese metode vorendag gekom. Nie net bespaar dit water nie, maar help ook dat die boom vinnig te vestig en dat voedingstowwe gou die wortels bereik. Waar jy ‘n boom plant, grawe ‘n vierkantige gat van 1m x 1m x 1m diep. Die gat moet vierkantig gegrawe word om te verseker dat die wortels nie al in die rondte in die gat groei nie maar uitsprei om die boom ordentlik te anker. Vul die onderste 25cm van die gat met gruis. Plaas ‘n 110mm rioolpyp skuins in die een hoek van die gat sodat dit in die gruislaag eindig. Vul die res van die gat met ‘n mengsel van helfte-helte van kompos en van die grond wat uit die gat verwyder is. Plant die boom net so diep as wat dit in die houer was.
As jy bome aankoop, koop verkieslik die wat nie enige wortels bokant die grond het nie aangesien dit as ekstra uitloopsels kan dien wat die boom se vorm kan beïnvloed. Maak die boom deur die pyp van onder af nat. Vir die begin kan die bogrond ook natgemaak word maar na ‘n paar maande sal die wortelstelsel gou na die dieper nat grond versprei wat die boom vinnig sal laat anker. Die besparing van watergebruik is veral die bonuspunt van hierdie stelsel want al die water wat benodig word, word gebruik en niks verdamp uit die grond nie. Elke drie maande of wat kan kunsmis wat die groei bevorder ook deur die pyp toegedien word om die punt waar dit die nodigste is vinnig te bereik. Hierdie kunsmis trek vinnig na bo.
Cecil het genoem dat die gebruik van kompos nie oorbeklemtoon kan word nie. Volgens hom moet jy, as jy dink jy het genoeg kompos toegedien, dubbel daardie hoeveelheid ook nog in die grond inwerk.
Die tuinafval en blaarreste kan effektief gebruik word om jou eie kompos te vervaardig, en in plaas daarvan om dit weg te ry, spaar jy addisioneel nog geld deurdat jy nie kompos hoef aan te koop nie.
Sorg vir goeie dreinering waar jy die komposhoop wil bou aangesien water sal veroorsaak dat die material vrot en stink. Indien ‘n komposhoop stink, is daar groot fout en werk die proses nie reg nie. ‘n Komposhoop is eenvoudig om te maak. Begin met ‘n laag van 25 cm organiese material. Dit kan insluit blare takke (verkieslik opgekerf en nie dikker as ‘n besemstok nie), groente- en vrugteskille, eierdoppe maar geen suiwelprodukte nie. Strooi ‘n komposaktiveerder, wat ook by Obaro verkrygbaar is, hieroor en herhaal die bouproses totdat die hoop ongeveer 1,5m hoog is. Die werktemperatuur in die komposhoop moet by ten minste 84 grade Celcius draai indien die proses reg verloop. Indien die hoop koud is kan jy maar eerder die afval wegry want êrens het daar iets skeef geloop. Moet ook nie grond opgooi nie want jy moet dit dan weereens saam met die kompos verwyder. Moet ook geen skaap-of dergerlike mis op die hoop gooi nie tensy dit vir ‘n jaar op ‘n hoop gelê het waar dit kon uitloog. Moet ook nie te veel houtskaafsels, wat verskeie olies bevat, gebruik nie. Na drie weke moet die hoop gemeng en omgedraai word.
Indien jy nie spasie het vir ‘n komposhoop nie, kan jy een van die houers wat spesifiek vir hierdie doel ontwerp is, by die meeste groot tuinbousentrums koop. Erdwurms word in hierdie proses gebruik en jy gooi maar net jou organiese materiaal bo in. Onthou om liefs nie in hierdie geval uieskille of te veel teeblare in te gooi nie. Tee bevat tantiene wat eerder by suurliewende plante gebruik moet word.
Die beste tyd om jou tuin nat te maak is vroegoggend of nadat die ryp af is in die winter, maar nie later as 11:00 in die dag nie. In die middag verdamp meer as drie-kwart van die besproeiingswater. Indien die temperatuur in die middag hoër as 35 grade draai, sit jou sproeiers vir twee minute op ‘n slag aan, net om die lug om die plante bietjie af te koel. Indien daar baie kalk in die water is, is dit raadsaam om voor sonop, wanneer die kristalle in die son vorm, jou tuin te besproei.
Jou besproeiingstelsel moet ook vir die somer en winterseisoene aangepas word. Meeste van die outomatiese stelsels het spesiale stellings hiervoor. ‘n Tuin moet gemiddeld 15mm water per besproeiingsessie kry. ‘n Maklike manier om dit te bepaal is om plastiekbakkies te neem en 15mm hoog van die bodem af ‘n merkie te maak. Plaas hierdie bakkies op verskillende plekke in die tuin waar jy natmaak, net nie onder struike en blomme of onder die druppende kraan nie. Sodra die bakkies tot by die 15mm merk gevul is, weet jy dat daar genoeg water toegedien is. Op hierdie manier kan jy dan ook bepaal watter gedeeltes van jou tuin nie genoeg water kry nie. Dieselfde metode kan gebruik word waar jy ‘n skuifbare sproeier gebruik. Skuif die sproeier elke keer as die bakkies die 15mm merk bereik.
Nog ‘n manier waarop heelwat water bespaar kan word is deur die gras nie te kort te sny nie. Indien die gras te kort gesny is, gaan dit oor in ‘n oorlewingstryd, soortgelyk as wanneer jy met ‘n dieet begin. Net soos jou liggaam vergader die plant ook alle voedingstowwe en water en beskik dit nie oor ‘n manier om die water doeltreffend te gebruik nie. ‘n Plant se missie is om te groei en saad te skiet. Solank dit nie saad geskiet het nie, sal dit verbete bly groei. Hierdie eienskap kan gebruik word om blomme weliger te laat blom deur al die dooie blomme uit te breek en te voorkom dat dit saad skiet.
Moet ook nie jou tuin omspit nie. Elke keer wat jy die beddings omspit, maak jy die bogrond oop en verdamp die water. Met die deklaag in posisie is dit nie nodig om om te spit nie. Geen onkruid kom deur die deklaag nie.
Nog ‘n belangrike aspek om te onthou is om slegs plante in jou tuin te plant wat daar sal groei. As jy plante by ‘n kwekery gaan uitkies, kies ‘n plant vir ‘n spesifieke plek in jou tuin en nie net omdat dit vir jou mooi is nie.
Cecil het hier ‘n hele paar voorbeelde van waterbesparende plante genoem wat ideaal aangepas is vir droogtetoestande sonder om jou tuin afgeskeep te laat lyk. Baie van hierdie plante het ook medisinale gebruike. Hou in gedagte dat die meeste plante maniere het om hulself teen die son te beskerm. So is daar plante met silwer of grys blare wat die meeste hitte weg weerkaats en sodoende die plant se watergebruik verminder. Vetplante soos die plakkies, kaktusse en alwyne moet in vol son en op droeë plekke staan want dit is waarvoor dit in die natuur aangepas is.
Raadpleeg gerus vir Faan by Obaro Thabazimbi of Hannetjie by Obaro Dwaalboom vir meer inligting aangaande plante en ander tuinbenodighede.
Indien u sou belangstel om van The Growing Business se dienste gebruik te maak is u welkom om hulle by 012 549 1856 te kontak.