Helpende hande word gehelp…
THABAZIMBI – … om hul werk te doen. Helpende Hande, ‘n plaaslike organisasie wat ondersteuning aan terminale kankerpasiënte verskaf, het onlangs ‘n sleepwaentjie van Bakone Minerals ontvang.
Die sleepwaentjie, ‘n ekstra-groot een wat ook ‘n dakrak het, sal gebruik word vir die vervoer van beddens, stowe en ander toerusting vir Helpende Hande. Uit die aard van die organisasie se bedrywighede, wat ondersteuning bied aan kankerlyers dwarsdeur die Thabazimbi munisipale distrik, vervoer hulle dikwels toerusting na en van die plekke waar pasiënte versorg word.
Bakone Minerals, ‘n maatskappy wat staalstrukture bou en korrosiebeskerming doen vir myne en industrieë, het die behoefte van Helpende Hande raakgesien en die sleepwa vir die organisasie aangekoop en met ‘n dakrak gepas.