Sport

Gholf – Ligaspan looi Mooinooi op hul tuisveld

THABAZIMBI – Thabazimbi se ligaspan het verlede Saterdag goed gedoen om Mooinooi op sy tuisbaan 3–1 te klop. Dit was verder ‘n besondere dag vir die span wat uit twee pa-en-seun pare bestaan het. Nico en Wiaan van der Westhuizen en Jakkie en Jan-Floris van der Wateren het die besondere kombinasies gevorm. Die res van die span was Denis Dreyer, Toppie Olivier, Johan Prinsloo en Billy Pring.
Tuis was die opkoms maar weer skraal en Ettiene le Roux met 43 IPS punte het uitstekende gholf gespeel. Willem du Plessis met 33 en ‘n ou bekende, Kobus Bergsma met 29 het ook in die pryse gedeel.
Die vergrote bof No 16 is nou klaar en sal seker binne die volgende week of twee permanent in bedryf gestel word. Hierdie putjie gaan dan een van die moeilikste op die baan wees.
Die afgelope week moes ‘n mens set soos jy deesdae Pretoria toe moet ry, so tussen die gate deur. Die setperke het hulle gebruiklike kuur van belugting en ‘n sandkombers moes ondergaan. Binne twee weke sal die waarde daarvan weer ervaar word.
Daar is verlede week verwys na die Gholfetiket in die nuwe uitgawe van die Gholfreëls. Daar is egter twee ongeskrewe reëls wat gereeld deur van ons lede verontagsaam word. Dis veral die beter spelers wat skuldig is aan die eertse. Hulle slaan ‘n bal baie verder as die ouer manne en stap dan net eenvoudig vooruit sonder om om te kyk, in die lyn van jou hou in. Dit is baie frusterend vir die ou wat wil speel en dan moet staan en wag en dit kan ook gevaarlik wees vir die ou wat so ongeskik vooruit stap. ‘n Man wil nie altyd skree om hulle aandag te trek sodat jy ook jou hou kan speel nie. Die tweede ongeskiktheid is die spelers wat hulle sakke en karretjies voor die setperk los as hulle die setperk bereik het. ‘n Mens laat jou toerusting altyd aan die kant van die setperk waarheen jy na die volgende bof moet stap. Gholfetiket is maar net basiese goeie maniere.
Onthou die Interaksie Gholf Vrydag 4 April.