Boerevereniging neem kennis van misdaadstatistiek

NORTHAM- Die stasie bevelvoerder in Northam Polisiestasie, superintendent Eric Schmidt het vroeg in Maart die maandelikse vergadering van die Northam Boerevereniging toegespreek. Hy het tydens die geleentheid die misdaadstatistiek aan die boere voorgelê.  Dit was met groot dankbaarheid dat daar kennis geneem is van die feit dat misdaad, veral op plase baie gering is. Die afgelope 4 jaar is daar geen ernstige gevalle aangemeld nie.  Hy het die boere aangemoedig om direk met hom kontak te maak as daar enige ongerymdhede  op plase plaasvind.
Mnr Hennie Botha, ‘n grondwaardeerder, het die vergadering ingelig aangaande grondwaardasies. Daar gaan defnitief eindomsbelasting betaalbaar wees vanaf Julie 2008. Boere moet ook kennis neem dat die onus om te verseker dat die nodige besonderhede, soos die korrekte posadres vir die uitstuur van kennisgewings, by die betrokke munisipaliteit, in hierdie geval, Thabazimbi, op die skouers van elke grondeienaar rus.
Met die goeie reën seisoen wat die omgewing tot nou toe ondervind, is die bosveld ruig en die gras welig.  Dit is die resep vir ernstige bosbrande wat oor die komende winterseisoen te wagte kan wees.  Om aan die boere meer inligting te gee was daar ‘n brandbestryding kursus aangebied deur Barries en sy span van Amandelbult Fireteam.
Daar is sekere bepalings waaraan voldoen moet word in terme van die Brandwet.
Alle veldbrande op jou eiendom moet by die Thabazimbi se rampkantoor aangemeld word. As daar ‘n brand op jou buurman se plaas is mòèt jy help.  Hitte, materiaal en suurstof is nodig vir vuur.  Haal een van die bogenoemde uit dan kan die vuur gesmoor word.  ‘n Elektriese vuur in huis kan geblus word deur die krag af te skakel. Gasvure en veldbrande moet geblus word.  In die geval van ‘n gasbottel wat brand, spuit die bottel nat om dit af te laat koel. Dit kan verhoed dat dit ontplof.
Volgens wet moet jy jou werkers wat help om vure te beveg van die regte klere voorsien.  Stofmaskers is ‘n moet, netso voorbrandpaaie.
Boere wat die kursus bygewoon het is prakties ingelig hoe die verskillende tipe brandblussers werk.  Petrolvure is aangesteek en elkeen het ‘n beurt gekry om met die brandblusser die vuur op die korrekte manier te blus.
‘n Voorstel is gemaak dat elke boer ‘n kaart voorsien wat die waterpunte op die plaas aandui.  Dit sal help om tyd te bespaar tydens ‘n brand.  Elke plaas se koördinate moet ook beskikbaar wees.
Brandstroke moet voor 9 uur in die oggend gemaak word.  Dan is dit gewoonlik windstil en daar lê nog dou op die gras. Die gras brand dan ook stadiger.  Bure moet vooraf in kennis gestel word as daar enige voorbrande beplan word.
Tydens die kursus is daar ook geleendheid aan belangstellendes gebied om lid te word van die Bosbrandbestrydings Vereniging.  Sodanige lede is dan verseker van hulp, sonder koste, indien daar ‘n brand op hulle plase sou uitbreek.
Die boere op die plase in die omgewing en spesifiek die kursusgangers, wil graag vir Barries, Johan en Rob asook die ander lede in die Fireteam van harte bedank vir hulle onbaatsugtige werk wat hulle kosteloos as ‘n gemeenskap diens vir die boere doen.  Vir meer inligting of om aan te sluit by die Boerevereniging, skakel gerus die voorsitter Joggie van Bruggen 014 786 0680
Na al die verigtinge was daar lekker gekuier tydens die braai wat deur die Northamse-Boerevereniging aangebied is.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.