Billike pryse vir wild op veiling

GROBLERSDAL – Wild ter waarde van R832 575  is verkoop tydens die Mpatamacha Wild-veiling by Groblersdal op 5 April. Altesaam 307 stuk wild is verkoop.
‘n Volwasse koedoebul is teen R9000 verkoop en ‘n jong waterbokbul teen R8200. ‘n Jong elandbul is teen R6000 opgeveil en ‘n volwasse eland vir R1000 minder teen R5000. Ses blouwildebeesbulle is opgeveil teen gemiddeld R3800 stuk, met R4700 die hoogste prys wat behaal is. Sewentien blesbokramme is teen ‘n gemiddelde prys van  R1780 verkoop. Twee rooihartebeesbulle is verkoop vir R4000 en R6000 onderskeidelik.
Familiegroepe van blesbok, blouwildebees, eland, gemsbok, kameelperd, koedoe, rooibok, rooihartbees, sebra, volstruis en waterbok is opgeveil. In die meeste gevalle was die topprys vir verskillende diere betaal is slegs sowat R100 tot R150 meer as die gemiddelde prys vir die groep.
Die duurste was twee kameelperde wat teen R17 000 elk verkoop is. Altesaam 47 blesbokke teen R969 elk is verkoop en sestien blouwildebeeste teen gemiddeld R1666 per dier. Agtien elande teen R5233 (R5400 hoogste prys) en veertien gemsbokke teen ‘n gemiddelde prys van R5000 stuk is verkoop. Daar is 21 koedoes verkoop teen R2533 stuk en 91 rooibokke teen gemiddeld R752 stuk. Twintig rooihartebeeste het ‘n gemiddelde prys van R4625 stuk behaal met ‘n hoogste prys van R4900.
Die hoogste prys wat vir ‘n sebra betaal is, is R5600 met R5346 wat gemiddeld vir 24 stuks betaal is. Ses volstruise het gemiddeld R2833 gekos, maar die duurste het R1000 meer gehaal op R3800. Negentien waterbokke is teen gemiddeld R5868 verkoop met ‘n bedrag van R6100 wat vir die duurste betaal is.
Die afslaer was Koot van Staden (selfoonnommer 082 908 7626) van Vleissentraal Bosveld.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.