General

4 P’s Staan Gereed

THABAZIMBI – In verlede week se uitgawe van Die Kwêvoël het ons vertel wat besoekers aan die Wildsfees tydens die Ready Steady Cook Out item kan verwag.
Die formaat van aanbieding gaan effens verander aangesien Beeld hulle nou ook by die item gaan skaar en as deel hiervan drie spanne van twee deelnemers elk gaan uitdaag om teen hulle te kook. Hierdie spanne sal uit die gehoor aangewys word. Beeld vervang ook die span wat oorspronklik uit een van die Potjiekosinskrywings aangewys sou word. Die spanne sal afsonderlik teen Beeld se span deelneem.
Die vier P’s waarna verwys word is natuurlik Pieter Coetzee van Die Kwêvoël wat die item organiseer, Pieter Meiring van Beeld wat die ander spanne gaan uitdaag, Pieter Koen, die kontinuïteitsaambieder tydens die Wildsfees en een van die aanbieders van die item en Pieter (Piet) Planter die ander aanbieder van die item.
Soos berig is word al die disse op oop braaivleisvure voorberei. Die bestanddele word eers aan die deelnemers bekend gemaak sodra hulle die sein kry om hul bokse oop te maak om al die benodighede en bestanddele uit te pak. Binne ‘n halfuur moet hulle ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg saamslaan. Een van die bestanddele in elke boks is nie eens aan die aanbieders bekend nie en hou gewoonlik ‘n groot verrassing vir deelnemers in.
Sorg dat jy Vrydag 2 Mei vanaf 11:30 tot 13:00 by die aktiwiteitsverhoog (Thaba SPAR verhoog) is sodat jy nie al die pret misloop nie.