Tannie Hester Grobler oorlede
THABAZIMBI – Behalwe vir die sewe jaar wat sy by haar seun in Nelspruit gewoon het, het tannie Hester Grobler (91), wat verlede week tuis aan hartversaking beswyk het, haar hele lewe in die Waterberge in die Thabazimbi-omgewing gewoon. Tannie Hester is op Maandag 17 Maart in haar slaap oorlede by die huis van haar dogter, Martie Engelbrecht, waar sy die afgelope nege jaar gewoon het.
Tannie Hester, wat op die plaas Hartebeesfontein grootgeword het, en haar skoolopleiding in die omgewing voltooi het, is later met Nick Grobler, ‘n boer van die omgewing getroud. Hulle het later op die plaas Renosterfontein, op die Matlabas-pad, geboer totdat hy siek geword het (sowat 33 jaar gelede), en hulle hul in Thabazimbi kom vestig het.
Van grootword op plase by haar ouma en oumagrootjie het tannie Hester bedrewe geraak in die kuns om boererate te berei. Hiervoor was sy goed bekend by die mense van Thabazimbi. Sy het haar gesin gereeld sommer self gesond gedokter. Partykeer was die sukses maar toe te skryf aan die verskriklike smaak van die boererate, vertel haar skoonseun, Sakkie Engelbrecht. Dit was so sleg dat mens te bang was om weer siek te word, sê hy. Maar haar ma het ‘n boereraat teen griep gehad, vertel Martie. Een of twee keer se drink en die pasiënt is gesond!
Nadat oom Nick oorlede is het tannie Hester nog ‘n ruk in Thabazimbi gewoon en ook vir ‘n tydperk by haar seun, Fanie, in Nelspruit. Die afgelope nege jaar was sy egter terug by haar dogter en skoonseun, Martie en Sakkie Engelbrecht, in Thabazimbi, waar sy selfs een en ‘n half jaar gelede ‘n brand oorleef het. Sy was alleen in die huis toe die brand uitbreek, en is na ‘n gesukkel uit die huis gered.
Tannie Hester is Donderdag 20 Maart uit die Gereformeerde Kerk begrawe. Sy het agt kinders gehad en laat drie seuns, Kerneels (van Lydenburg), Nick en Fanie(van Nelspruit) en ‘n dogter, Martie (van Thabazimbi), asook 19 kleinkinders en 31 agterkleinkinders en een agteragter kleinkind agter.
Martie en Sakkie het gevra dat hul waardering uitgespreek word vir al die oproepe, besoeke en boodskappe tydens tannie Hester se siekbed, veral die twee weke voordat sy oorlede is. Hulle is veral dankbaar teenoor dokter Buys en suster Cornelia wat elke dag ingeloer het en die predikante wat so gereeld daar was.