Slenkdalkoors steek kop uit
Elana Greyling
Boere het met skok verneem dat Slenkdalkoors onlangs op ‘n melkplaas in die Bela Bela omgewing uitgebreek het. Beeld berig ook dat verskeie plase in die Rust de Winter-gebied sedert verlede naweek ook onder kwarantyn geplaas is toe die erg aansteeklike siekte onder vee in die gebied uitgebreek het.
‘n Aantal kalwers het gevrek en koeie het geaborteer. Toetse is gedoen deur Prof Prozesky van die Universiteit van Pretoria en sy studente en Slenkdalkoors is bevestig. Die boer en vier van die studente is in die hospitaal opgeneem nadat hulle die siekte opgedoen het.
Groot verliese aan vee en ook menselewens is vroeër die seisoen in Oos Afrika aangeteken.
Slenkdalkoors is ook vroeër in Malelane en Nelspruit omgewing by buffels geïdentifiseer. Enkele kalwers is dood en koeie het geaborteer.
Die siekte is van dier na dier en van dier na mens oordraagbaar. Dit kan baie ernstig wees maar is normaalweg nie vir mense dodelik nie. Dit kan egter ernstige nagevolge inhou. Die simptome in mense stem ooreen met ‘n strawwe griepaanval, met hoofpyn en stywe pynlike gewrigte. Daar kan egter soms, lank na die siekte verby is, oogletsels te voorskyn kom wat selfs tot blindheid kan lei.
Die virus word oorgedra deur ‘n muskiet en ook deur die drink van die melk of hantering van siek diere of besmette karkasse.
Slenkdalkoors of Sinkdalkoors, oftewel ensoötiese hepatitis, kom onder skape, beeste, bokke en buffels voor. Perde en varke kry dit egter nie. Dit is in 1913 die eerste maal in Kenia beskryf en was tot daardie deel beperk. In die somer van 1949-1950 het dit egter na Suid-Afrika versprei en groot verliese is gely.
Klaarblyklik word skape die ernstigste geaffekteer. 90% of meer van skaaplammers wat die siekte opdoen, sal vrek. Veral jong diere is baie vatbaar en vrek soms sonder om enige simptome te vertoon. Simptome sluit in hoë koors onder sommige skape en lammers met ‘n loperige, etteringe neus. Dragtige diere aborteer. Dikwels is misgeboorte die enigste simptoom.
By beeste herinner die siekte aan drie dae stywe siekte met bloederige laksering die vernaamste simptoom.
Slenkdalkoors veroorsaak geelsug en diarree in jong kalwers. Tydens ‘n outopsie kan skade in die vorm van wit kolle op die lewer gesien word.
Alhoewel dit nie ‘n beheersiekte is nie, is dit wel ‘n aanmeldbare siekte wat beteken dat boere dit onmiddellik via hulle staatsveearts moet aanmeld. Omdat dit ‘n virussiekte is, kan dit volgens dr Lolly Fourie, staatsveearts van Lephalale, nie behandel word nie. Voorkoming is die enigste vorm van beheer. Daar is entstof wat gebruik kan word, naamlik die lewendige entstof op nie-dragtige diere en sogenaamde “dooie” entstof op dragtige diere. Daar is egter op hierdie huidige oomblik geen entstof in die land beskikbaar nie. Mnr Francois van den Berg, vise-president van Agri Limpopo meen die totale afwesigheid van entstof is onaanvaarbaar.
Volgens dr Fourie is Slenkdalkoors nie ‘n bekende siekte in die omgewing nie en dit beteken dat geen diere daarteen immuun is nie. Dit kan dus ongelooflike gevolge vir die bees, skaap en wildbedryf inhou.
Volgens Prof Prozesky is die eingste manier van beheer deur die beheer van die muskiete. Genadiglik het ‘n koue front die gebied bereik kort na die uitbreek van die siekte en dit verklein die kanse vir verspreiding aansienlik. Entstof mag moontlik by private farmaseutiese maatskappye bekom word, maar voorraad is beperk.
Volgens Beeld is die dieregesondheidsowerhede van Mpumalanga reeds besig om hulle te staal vir ‘n moontlike uitbreek van die siekte in die dig bevolkte gebiede in die verre weste van die provinsie aangesien dit aangrensend aan die Rust de Winter-gebied is.