Sport

Skopboks

THABAZIMBI – Die eerste kwartaal was vol aksie vir die lede van die skopboks-klub, XKT, in Thabazimbi. Daar was ‘n gradering, waartydens twee lede swart gordels verwerf het, en ‘n hele paar medaljes is verower by die Great North skopboks-kampioenskappe.
Hoewel Werner Rall (15) en Leon Freudiger (29) veral geluk gewens word met jare se harde werk wat hulle swart gordels besorg het, is hy trots op al sy studente, vertel afrigter shihan Peet van Breda. Die skopboksers is op alle gebiede van die vegkunste en opleiding getoets. Kennis, fiksheid, selfverdediging, sportreëls, wapens, tegnieke en toewyding is alles aspekte wat onder die loep geneem word wanneer gradering plaasvind, sê Peet.
‘n Hoë standaard is ook gehandhaaf by die onlangse Great North skopboks-kampioenskappe wat op 15 Maart in Centurion gehou is. Sommige XKT-studente het vyf of meer gevegte gehad wat hulle tot die finale laat deurdring het. Conrad du Toit het homself onderskei deur unieke skop-kombinasies suksesvol toe te pas. Die 7-jarige Annabel Buys was die ene aksie en het een goue en een brons medalje huis toe gebring.
Goue medaljes is ook deur Simeon du Toit, Francois Buys (2 afdelings), Dyllan Pretorius en Leon Freudiger verower. Silwer medalje-wenners was Breda Eckard, Wessel Fourie, Alex Hobarth, Kyle Dyer en Lourens du Plessis. Brons medaljes is huis toe gebring deur Ian Rall, Breda Eckard, Kyle Dyer en Lourens du Plessis.
Die sleutel tot hul sukses lê in getroue klasbywoning en ondersteunende ouers, sê Peet. Enigeen wat belangstel in skopboks as sport kan shihan Peet van Breda skakel by 084 624 1537. Die klasse word aangebied in ‘n vertrek by die Thabazimbi Christian School naby Ipelegeng.