General

Koedoeskop-boere kragloos

KOEDOESKOP – Die boere van Koedoeskop gaan swaar gebuk onder teëspoed uit alle oorde. As dit nie vloede is nie, word hulle gery deur kragonderbrekings wat boerderybedrywighede heeltemal lamlê vir enigiets van ‘n paar uur tot dae aaneen.
Sedert die begin van die jaar het die boere, soos die res van die land in Januarie en Februarie onder beurtkrag gely. Dit het egter baie gereën in hierdie tyd en die skade was nie ten opsigte van droogte nie. Tussen 13 Februarie en 6 Maart was daar kragonderbrekings op 13 dae, dit wil sê 13 keer in 23 dae! Dié onderbrekings wissel van kort onderbrekings (enkele minute), tot ure lank. In die middel van Februarie het die boere vir ‘n week lank feitlik geen krag gehad nie. Telkens het Eskom tegnici uitgestuur, wat krag herstel, net om ‘n kort rukkie later weer ‘n onderbreking te hê. Teen die einde van die week het hulle besef dat daar verder af met die lyn ‘n boom daarop omgeval het, en dat dít die onderbrekings veroorsaak het.
Meeste van die afgelope drie maande se kragonderbrekings is egter deur kabeldiewe veroorsaak. Waar kabeldiewe vroeër sowat een maal elke twee weke kragonderbrekings veroorsaak het, is dit nou sommer twee maal per week, sê die Koedoeskop boere. In ‘n periode van 20 dae was kabels op dié lyn ses maal gesteel. En elke keer wanneer kabels gesteel word, is die boere vir sowat 18 ure sonder krag. Volgens die boere word die lyne gesteel deur mense met gespesialiseerde toerusting. Wat die vraag laat ontstaan waar hulle die toerusting in die hande kry.
Een oplossing is om tydens maanligaande patrollies langs daardie lyne te hou waar kabeldiefstal voorkom, maar geen ondersteuning vir hierdie benadering word van die SAP of Eskom ontvang nie, sê die Koedoeskop-boere. Die ander reëling is dat oproepsentrums sekuriteitsmaatskappye laat weet sodra kragonderbrekings plaasvind. Dit gebeur egter nie. Vis Gladius (private beskermingsdienste) is nou deur die boere aangestel om te kyk of hulle hond haar-af kan maak.
Op die Koedoeskop-lyn is daar sowat 22 km koperlyn wat nog deur aluminium vervang moet word. Die boere meen Eskom wag maar nou dat die orige koperkabel gesteel word, voordat hulle die koper- met aluminiumkabels vervang. En intussen staan die boerderye stil…
Nou is die kritieke tyd vir die besproeiing van sojabone, omdat dit die blom- en peulstadium is. Sonder water op die regte dae (warm weer) val die blomkop af, dié gedeelte van die plant wat die begin van die vrug is en waarsonder die sojaplant niks werd is. Só kan groot gedeeltes van die oes verlore gaan. Die omvang van die skade sal eers in April-Mei bepaal kan word, wanneer daar gestroop word. Daar is boere wat meen hulle is twee weke agter met hul besproeiing.
Buiten die besproeiing wat nie plaasvind nie, staan ‘n heelwat ander bedrywighede stil. Vervoer- en stroperkontrakteurs staan by silo’s, niks kan op- of afgelaai word sonder elektrisiteit nie en arbeiders hang rond op die plase omdat hulle wag om aan te gaan met werk, wat as gevolg van kragonderbrekings gestaak word.
Van die boere van Koedoeskop is reeds vir ‘n paar jaar in ‘n regsgeding met Eskom betrokke na kragonderbrekings tussen Februarie 2001 en Februarie 2002. Die boere het veral skade gely in September 2001, toe hulle vir twee weke sonder elektrisiteit was. Dit was tydens die kritiekste tyd in die koringproduksie. Die boere eis meer as R6 miljoen van Eskom, wat verweer dat hulle slegs verantwoordelik gehou kan word vir direkte skade en nie “gevolgskade” nie. Hierdie punt sal voor die hof bepaal word wanneer die saak voortgaan. Om kostes te bespaar is slegs een van die boere tans besig om skadevergoeding te eis in ‘n toetssaak. Afhangende van die uitslag, sal besluit word of die ander elf boere met hul saak voortgaan.

Ná die kragonderbrekings van 2001 het ‘n periode van opknapping aan die Eskom-infrastruktuur van die omgewing gevolg, maar Eskom het erken dat die lyn se toevoerresultate vir drie jaar daarna eerder versleg het. In ‘n brief in 2004 aan die boere het Eskom erken dat die opgradering van die KK(Koedoeskop)-voerders nie geslaag was nie en dat dringend daaraan aandag gegee moes word.
Die hofsaak, wat reeds amper vier jaar aan die gang is, word telkens op grond van tegniese punte uitgestel. Eskom het op ‘n stadium in die hof ontken dat daar enige probleme ten opsigte van kragvoorsiening was in 2001, en dus ontken hy aanspreeklikheid. Bewysstukke wat by die hof ingedien is, bevat egter bevestiging van Eskom se Velddienste-afdeling van elke kragonderbreking.
Ander klagtes van die Koedoeskop-boere gaan oor onbevoegde kontrakteurs wat op Eskom-drade herstelwerk doen, meterlesings wat nie na behore geneem word nie, oproepsentrums wat nie reageer op klagtes nie, en paalnommers wat nie op die stelsel in Polokwane opgespoor kan word nie. ‘n Dokument wat bewys dat twee werknemers van een van Eskom se kontrakteurs, Roshcon, nie hul opleidingseksamen geslaag het nie. Hierdie twee werknemers was vanaf Februarie 2001 tot Februarie 2002 verantwoordelik vir die werk op die KK (Koedoeskop)-lyn.
Een van die bestuurspersoneellede van Eskom het selfs per geleentheid erken dat hy nie weet waar sy tegniese span doenig is nie, vir al wat hy weet lê hulle êrens en slaap. Wat ‘n mens laat wonder of daar hoegenaamd maatreëls in plek is om te verseker dat grondspanne hul werk doen.
Sedert 2001 is reeds ongeveer die helfte van die boere van hul plase weg. Meeste van hulle het vóór dit vir 20 jaar suksesvol in die area geboer. Stuksgewys het hulle egter ander werk begin soek en hul plase begin verkoop. En dít vir besproeiingsgrond waarvoor boere daar buite hul oogtande sou gee.
Nadat Eskom vir reaksie genader is, is die probleem van kabeldiefstal oorhoofs aangespreek. Weinig reaksie is ontvang ten opsigte van die spesifieke probleem in die Koedoeskop-area.
Volgens Eskom was daar onlangs “’n paar voorvalle” van kopergeleierdiefstal op ‘n 45km lyn wat Koedoeskop, Rooiberg en Leeupoort bedien. Die kabels word gewoonlik gedurende die nag gesteel en Eskom gebruik kontrakteurs om die geleier te vervang. Al word slegs 300m geleier gesteel, moet daar soms tot 3,5 km geleier vervang word om dit moontlik te maak om die koper en aluminium te verbind. Dit neem tot 20 uur op ‘n slag.
Eskom is besig om alle kopergeleiers met aluminium te vervang in Eskom Distribusie se noordelike streek. Hulle verduidelik verder dat nie net Eskom ly onder dié tipe diefstalle nie, maar ook Telkom en Transnet. En dat nie net boere die gevolge dra daarvan nie, maar ook mynbou, metropolitaanse gebiede, die vervaardigingsektor ens.
Hulle verduidelik verder ‘n komitee aangestel is om die probleem “nasionaal strategies” aan te spreek. Rolspelers wat verteenwoordig word is (behalwe Telkom, Eskom en Transnet) die Metal Merchants’ Association, die vervaardigingsektor, Metal Processing Sector, Kamer van Mynwese, Metro’s, SAPS en Besigheid teen Misdaad. Daar is blykbaar 22 provinsiale streekkomitees wat help om die strategieë te implementeer.
Hulle verseker dat “alle moontlike kennis en hulpbronne ingespan word om die ernstige negatiewe impak op die ekonomie sowel as op sekere noodsaaklike dienste aan die Suid-Afrikaanse publiek, te voorkom”.
Dan gaan hulle voort en verduidelik watter nommers geskakel kan word om foute te rapporteer, om te verseker dat verwysingsnommers gegee word en hoe om selfone in te span vir foutrapportering.