General

Implementering van Eiendomsbelasting

Konsepwet lê ter insae by Thabazimbi Munisipaliteit

THABAZIMBI – Die konsepbeleid en wetgewing ten opsigte van eiendomsbelasting kragtens Artikel 4 (22) van die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting vir Thabazimbi Munisipaliteit, is ter insae by die Munisipale Kantoor vanaf 1 April 2008 tot 18 Mei 2008.
‘n Kennisgewing van die Thabazimbi Munisipaliteit se voorneme om die Wet te aanvaar verskyn ook in hierdie uitgawe van Die Kwêvoël.
Die publiek kan die genoemde konsepbeleid ter insae neem gedurende normale kantoorure by die Munisipale Kantore te Rietbokstraat Thabazimbi. Dit sal ook by al die satellietkantore beskikbaar wees. Skriftelike kommentaar of voorleggings in hierdie verband moet voor 18 Mei 2008 gedoen word.
Thabazimbi Munisipaliteit wys ook daarop dat die onus op die skouers van alle grondeienaars rus om hulle van die korrekte posadres te voorsien. Kennisgewing aangaande die waardasies, wat hopenlik vanaf 15 April bekend sal wees, word na grondeienaars uitgestuur. Vir alle toekomstige korrespondensie is dit dus uiters belangrik dat die munisipaliteit oor u korrekte posadres beskik. Posadresse wat veral benodig word is die van plaas- en ander grondeienaars wat nie voorheen vir munisipale eiendomsbelasting aanspreeklik was nie.