Trosbehuising steeds ‘n goeie kopie
In die heersende stadiger eiendomsmark is trosbehuising waarskynlik die beste kopie.
Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep, sê daar word geen onderskeid getref in statistiek oor verkoopsyfers van wooneiendom wat die siening ondersteun dat troseenhede nou die beste verkopers in die mark is.
“Maar terugvoering van ons agente dui daarop dat vraag en waardes in dié nismark nou die sterkste groei.
“Die redes hiervoor is redelik voor die hand liggend. Sekuriteit, gekoppel aan bekostigbaarheid en die gerief van ‘n toesluit-en-ry leefwyse is waarskynlik bo-aan die lys.”
Hy voeg by dat troseenhede, interessant genoeg, aan die behoeftes van verskillende demografiese groepe voldoen – van die goedkoper kant van die mark tot die heel luukse sektor van die mark. Gevolglik het behuising in dié kategorie, wat aanvanklik op die goedkoper mark gemik was, nou universeel gewild geword.
Ander redes wat die sektor steun, sê hy, is die neiging tot groter digtheid deur stadsrade ten einde dienste beter te benut sowel as die tekort aan ontwikkelingsgrond, wat ontwikkelaars noop om beskikbare ruimte optimaal te benut. Volle besitreg is waarskynlik ook minder beperkend as deeltitel-besit.
“’n Woord van waarskuwing is egter nodig: sommige van die nuwer trosontwikkelings is nie altyd van hoë gehalte nie en kopers moet die ontwikkelaar en ontwikkeling waar hulle wil koop met oorleg kies.
“Let veral op die finansiële gesondheid van die ontwikkelaar, veral as jy van die plan af wil koop, en doen jou huiswerk oor planne vir toekomstige infrastruktuurontwikkelings – nuwe snelweë of grond wat ruimte vir grondbesetting of lae-koste behuising laat, kan waardes beïnvloed.
“Ander aspekte is heffings, wat gewoonlik redelik is in trosontwikkelings, en die gewone oorwegings soos toegang tot geriewe.”
Laastens sê hy: “Ek dink dit is belangrik om by ‘n gemeenskap waarmee jy kan identifiseer in te skakel. Per definisie behels trosbehuising ‘n konsentrasie van groter getalle inwoners in ‘n gegewe gebied en wrywing kan ontstaan wanneer mede-inwoners uit pas is met die leefwyse wat jy verkies.”