General

Skaakgroep se geledere brei uit

THABAZIMBI –  Altesaam sewentien skaakspelers van Laerskool Thabazimbi het Saterdag 14 Maart meegeding teen Laerskool Krugerpark en Laerskool Nylstroom in Mokopane (Potgietersrus). Hulle is hartlik ontvang en het lekker skaak gespeel in die lapa van Laerskool Krugerpark.
Scholtz le Roux , Leandi Coetzee en Jimmy Smith  het al sewe hul spelle gewen. Armand Venter en Igee Theron  het 6 uit 7 spelle gewen, Michael Siebert wen 5 ½  uit 7, Michael Swanepoel 4 ½, Ryno Dumond 4, Lanneo Nagel en Tegan Theron 3 ½, Jaco de Witt 3 en Bianca Pretorius 1 uit sewe spelle elk. Die half dui op wedstryde wat gelykop geëindig het.
Vir sommige spelers was hierdie die eerste skaakkampioenskap waaraan hulle  deelgeneem het. Volgens die skaakorganiseerder by Laerskool Thabazimbi, Hanti Vorster, is hulle baie trots op almal wat deelgeneem het en doen al die spelers goeie ondervinding op. Die ander deelnemers was Nickolize Stoltz, Desirée Loubser, Harm Pretorius, Yolene Claassens en Heinie Rohrbeck.
Tydens die skoolvakansie op 11 en 12 April kan alle skaakspelers ‘n skaakafrigtingskursus deur die bekende en bekwame Anton Goosen bywoon. Anton Goosen het in die onlangse groot Waterkloof Ope, waarin Grand Masters gespeel het, vir Simon Agdestein van Noorweë geklop. Suid-Afrika se Internasionale Meester, Watu Kobese, het by dieselfde kampioenskap gelykop gespeel met Simon Agdestein.
Op Vrydag 11 April vind die kursus van 16:00 tot 20:00 plaas en Saterdag 12 April is die kursus van 08:00 tot 14:00. Alle skaakspelers is welkom, nie net diegene wat kan speel nie, maar ook leke. Die koste beloop R50 per speler. Enigeen wat belangstel, kan by Hanti Vorster by Laerskool Thabazimbi bespreek en betaal.