Rhino rugbyspan wen Rustenburg
THABAZIMBI – Die Rhino Rugbyklub van Northam Platinum se eerste span het na ‘n klipharde wedstryd teen Rustenburg met die louere weggestap (20-19) op Rhino se tuisveld. Beide spanne het drie drieë gedruk.
Die hele Rhino-span het goed gespeel . Steven Coetsee het twee drieë gedruk, Eric Mdyogolo een en Brandt Engelbrecht het met ‘n doel- en skepskop geslaag.
Van meet af was dit duidelik dat Rustenburg wou wraak neem na die loesing wat hulle twee weke gelede van die Rhinos gekry het. Hulle het ingeklim en is gou beloon toe hulle na ‘n skrum oorgeval het vir ‘n drie, wat ook verdoel is.
Die Rhinos se skrumskakel, Steven Coetsee, het geantwoord met briljante spel deur vanuit sy eie helfte die skrum te breek en ‘n drie te druk, wat ook verdoel is. Oomblikke later het die losskakel, Brandt Engelbrecht, met ‘n lang skepskop geslaag wat die Rhinos weer laat voorloop het.
Kort voor halftyd het het Rustenburg weer ‘n drie gedruk wat nie verdoel is nie en die Rhino-vleuel, Eric Mdyogolo, het sy spoed en vernuf gewys en ook gaan druk wat die halftydtelling 15-12 in Rhino se guns gemaak het.
Na halftyd het Steven Coetsee, wat toe op vleuel gespeel het, weer gaan druk, maar Rustenburg het geantwoord met ‘n drie wat verdoel is, wat die eindtelling op 20-19 te staan laat kom het.
Die tweede span het hulle vasgeloop teen ‘n baie gemotiveerde tweede span van Rustenburg en die wedstryd 0-8 verloor. Die Rhinos se vleuel, Fanta, en heelagter, Scarra Viko, was van die uitblinkers en daar word voorspel dat hulle nog baie spanne sal dronkhardloop.
Op Saterdag 15 Maart speel die Rhinos op Thaba Park in ‘n rugbytoernooi wat deur die Thabazimbi Rugbyklub aangebied word. Om 12:30 speel Thaba 3 teen Carltonville 2 en om 13:30 speel Rhino 2 teen Quins o/21. Om 14:30 speel Thaba 2 teen Quins 3 en om 15:30 speel Union 1 teen Carltonville 1. Om 16:45 speel Rhino 1 teen Quins 2 en om 18:00 speel Thaba 1 teen Quins 1. Verversings sal te koop aangebied word. Almal word genooi om die rugbydag te ondersteun.