Health

Plaas ‘n reënboog op jou bord

Geniet elke dag ‘n reënboog van vars Suid-Afrikaanse vrugte en groente om te help om kanker te voorkom. Dit is die boodskap van KANSA (Kankervereniging van Suid-Afrika) oor voedings-bewustheid in Maart.     
“Navorsing bewys dat as jy vyf porsies vrugte en groente elke dag eet, jy die risiko van kanker en ander leefstyl-verwante siektes kan verminder,” sê Rose Jacobs, Hoof van Gesondheidsprogramme by KANSA.
Hier volg dan ook ‘n paar wenke vir ‘n gesonde dieet
Eet elke dag genoeg vars vrugte en groente (ten minste vyf porsies).
Kies ‘n verskeidenheid vrugte en groente van verskillende kleure vir verskillende voedingstowwe.
Eet meer vesel soos volgraan brood, braaipap, sorghum, hawermout, bone, vrugte-en groenteskille en bruin rys.
Beperk die inname van rooi vleis en eet eerder vis, hoender, bone, lensies en soja-produkte.
Vermy vetterige kos, kos wat te veel suiker of sout bevat en gemorskos soos  aartappelskyfies, lekkers, koek, geprosesseerde kos, byvoorbeeld: lekkers, aartappelkrulle en kitskos.
Kies lae-vet melk, joghurt, kaasprodukte, laetransvet margarien en olie soos Canola Olie, wat deur KANSA onderskryf word as ‘n gesonde keuse.
Probeer om drie maaltye per dag te eet en eet jou gunsteling vrugte as versnapering.
Wees ook waaksaam oor hoe jy die kos voorberei. Probeer ook om elke dag rou of ongekookte vrugte en groente te eet. Stoom of bak jou kos en probeer so min as moontlik om jou kos in vet te bak, in vet te braai of te rooster.
Moenie gebruikte olie weer gebruik nie. As jy jou kos wil braai, beperk dit tot twee keer ‘n week, sny ekstra vet af en hou die rooster 12 cm bo die kole en kook stadig om te keer dat kos brand. Moenie gebrande vleis eet nie. Jy kan ook foelie gebruik om kos in te braai.
Berg voedsel met sorg en gebruik produkte soos Glad Wrap wat onderskryf word deur KANSA as ‘n gesonde keuse.
Vervang sout met vars kruie en speserye.
Vloeistof speel ‘n integrale deel van gesond wees. Drink 2-3 liters vloeistof per dag, waarvan die helfte water moet wees. Deur genoeg water te drink, maak jy seker jou liggaam bly gehidrateer. Water help voedsel om deur die spysverteringstelsel te beweeg en dit dra voedingstowwe na die selle. Water raak ook ontslae van afvalstowwe in die liggaam.
Die gebruik van alkohol word gekoppel aan ‘n verhoogde risiko van kanker van die mond,  keel, strottehoof, stembande, slukderm, en lewer. Alkohol bevorder ook moontlik die  risiko van kanker van die kolon, rektum en borskanker, al word lae hoeveelhede alkohol ingeneem. Beperk jou inname van alkohol tot een drankie per dag of vermy dit totaal. Vermy versoete en bruis soetgemaakte drankies.
Drink tee, verkieslik Freshpak rooibos-tee. Dit bevat anti-oksidante en word onderskryf deur KANSA as ‘n gesonde keuse. As jy vrugtesap wil drink, kies ‘n suiwer sap wat nie kunsmatig versoet is nie en verdun dit met water.
Vir meer inligting en raad oor kanker, skakel KANSA se tolvry Inligtingsdiens by
0800 22 66 22, of besoek www.cansa.org.za of skakel u plaaslike kantoor by 014 594 2424 en praat met sr Tryna Verwey of sr Hosi Sebalo of epos avoges@cansa.org.za.