Entertainment

Pampoenfees – Rekord staan steeds

2007 se rekord van die grootste pampoen in Suid-Afrika staan steeds op 224.9 kg.  Die naweek se Pampoenfees en -kompetisie op Pietersburg se grootste pampoen het die skaal op 84,4 kg getrek, en is ingeskryf deur Pieter Engelbrecht.
Nou lê die volgende twee feeste voor die deur, met Pretoria se Pampoenfees more, Saterdag 15 Maart, by die Pioniersmuseum in Silverton.  Die Pretorianers gaan beslis poog om Pietersburg die loef af te steek,  en pampoenstories wat al groter is as visvangstories, doen die rondte van yslike pampoene, wat al skoon deur wagte opgepas word teen diewe en diere.
Behalwe die beoordeling van die swaarste pampoen, die lelikste pampoen, die mooiste pampoen en die kleinste pampoen, is daar ook n pampoenpitspoegkompetisie. In Pietersburg was Stefan Jacobs die spoegkoning op 10,18 meter! Daar is ook ‘n pampoendra kompetisie en ‘n paddaspringkompetisie.
En vir dié pampoene wat hulle nie met pampoensport wil besig hou nie, is daar heerlike ander vermaak, soos toere deur die Pioniersmuseum en ‘n veelsydige musiekprogram, met Boeredanse, Volkspele, Boere-orkeste en ander individuele kunstenaars soos Sanette van der Merwe, Boerseun, Charl Smit, Quintin Prinsloo, Jaycee en Karlien Husselman.
Saamlopend met die Pampoenfees, is die Boeremark wat weekliks vanaf 6 uur op dié terrein plaasvind en waar mense heerlike vars groente en produkte, direk van die boer kan kry.  Vanaf 7 uur word die pampoene ingeweeg, en om 9 uur open die biertuin.  Die hoogtepunt van die Pampoenfees, is die beoordeling van die pampoene om 11 uur, waarna die pryse oorhandig gaan word.
Al die pampoene wat die dag van die fees ingeskryf en aangebied word gaan na welsynorganisasies wat dit verwerk, verpak en versprei na behoeftige mense.  Hierdie is ‘n noemenswaardige projek aangesien daar oor die 2000 kg se voedsel so versprei word.  Skenkings van nie-bederfbare voedsel en klere kan ook op die dag by die fees gedoen word.
Hierdie kompetisie word aangebied deur Cullinan Boere-Unie, Radio Pretoria en TLU SA ten bate van Volkshulp 2000.
Besoek gerus die webblad vir meer inligting: www.agriwebsa.com of skakel Henri Combrink by 082 552 9428.
*As Pretoria nie die rekord kan verbeter nie, gaan Stilbaai dit probeer op 29 Maart 2008 by Laerskool Bertie Barnard.  Kontak Karin van Nierop by 083 444 4750