Musieklegendes by die Expo
Die boeremusieklegende Ollie Viljoen en die bluesrocker Valiant Swart wat pas die opnamesessies van hul eerste gesamentlike album, getiteld Vuur en Vlam voltooi het, gaan Donderdag 1 Mei tydens die Thabazimbi Expo op die hoof verhoog optree. Ollie speel akkordion, klavier en Hammond-orrel, terwyl Valiant sing en die kitare speel.
Hulle optrede bestaan uit ‘n handvol tradisionele boeremusiek en volksliedjies, asook ‘n dosyn splinternuwe skeppings. Daar is byna ewe veel instrumentale as vokale nommers, oorwegend in die volks- en boeremusiek idioom, afgewissel met invloede uit die twee kunstenaars se gedeelde passie vir blues en cajun/jazz/sigeunermusiek.
Twee sonderlinge insluitings is opnames van liedjies van George Snyman, ‘n tuinier en houtkapper van Malgas. George, self ‘n kitaarspeler, en Valiant het ‘n paar jaar gelede ontmoet en haal gereeld die kitare uit om saam musiek te maak. Valiant en Ollie het besluit om van George, oftewel “Oom Jolla”, se liedjies op te neem, en die resultaat, gesing in die oorspronklike streeksdialek, is werklik iets besonders – aards en eerlik.
Nog ‘n interessante toevoeging is Valiant se toonsetting van die G.A. Watermeyer-gedig “Ballade op die dronkparty”. Die gedig is oorspronklik in 1948 in die bundel “Sekel en Simbaal” gepubliseer, en was ‘n natuurlike keuse vir toonsetting, aangevuur deur Ollie en Valiant se gelyke liefde vir Afrikaanse poësie, Bolandse rooiwyn en goeie ou samesyn.
Daar is ‘n aansteeklike vonk tussen hierdie twee legendes. Vra jy hulle uit oor die maak van album, duik die woorde “lag”, “dans” en “pret” voortdurend op. Ollie en Valiant het mekaar vyf jaar gelede ontmoet en ‘n onblusbare musikale verbond is spoedig gesmee.
Vuur en Vlam is die resultaat van hul liefde vir boeremusiek, en hul oortuiging dat hierdie eg Suid-Afrikaanse musiekstyl vir geen ander volksmusiek ter wêreld hoef terug te staan nie, dat dit gekoester en bewaar moet word, en dat dit met soveel mense as moontlik gedeel moet word.
Maak seker dat jy hulle nie misloop nie.