General

Laerskool Koedoeskop hou kaskardag

KOEDOESKOP- Laerskool Koedoeskop het verlede Vrydag hulle jaarlikse kaskardag aangebied.
Van vroeg af het die skool met opgewonde kinders gewemel want vandag gaan hulle span wen.  Daar is gou skool gegaan om die nodige reëlings te tref voor die water kaskenades begin.  Die kinders het met groot geesdrif deelgeneem en elke kind het so nat as moontlik geword.
Stalletjies is opgerig en dit was duidelik dat almal ‘n groot poging aangewend het om ‘n lekker karnavalatmosfeer te skep. Daar was rooibokke ook op die spel om gewen te word. Borde is verkoop wat op die veld geplaas is waarna ‘n vliegtuig ‘n sakkie meel afgegooi het. Die borde naaste aan die sakkie het die wenners bepaal.
Toe die tyd aanbreek om reg te maak vir die kaskar optog was daar heelwat pret met die aantrek van die uitrustings want al die klasse het almal ‘n tema gehad waar volgens hulle aangetrek het.  Daar was boemelaars, babas, die nasionale krieketspan en die smartie-klas om maar ‘n paar te noem.  Terwyl die ouers nuuskierig rondgestaan het, het ‘n plaaslike idol die gehoor vermaak met haar sang.
Met die aanbreek van die kaskar optogte het elke span hulle kreet geskree en dan vir beoordeling voor die stalletjies verby beweeg.
Die skool bedank die borge vir hulle bydrae. Die ouers is ook geloof vir al hulle harde werk en ook om teenwoordig te kon wees op die lekker warm dag en om nie te praat van die lekker potjie kos wat ook voorberei was het baie lekker geruik.  Die gaskunstenaar wat later die aand opgetree het was ook goed ondersteun.