Itireleng maak trollies vir selle
THABAZIMBI – Goeie samewerking het gelei tot ‘n gemeenskaplike voordelige situasie vir die polisie en Itireleng. Die Thabazimbi polisie was op soek na kostrollies vir die sel-inwoners, en Itireleng, Kumba Iron Ore se gemeenskaps-opleidingsentrum het projekte gesoek om aan te werk.
Die polisieselle huisves (en voed) tans sowat 70 inwoners daagliks. Sonder trollies het die kokke daagliks telkemale op- en afgeloop om borde kos aan die selinwoners te voorsien. Hulle het Itireleng versoek om kostrollies te maak om die proses te vergemaklik.
Twee kostrollies, wat elk 20 borde kan karwei, is ontwerp en deur die studente by Itireleng se sweis-afdeling gemaak. Hierdie trollies is Woensdag 12 Maart aan die Thabazimbi polisie se stasiebevelvoerder, superintendent Leshoaneng Mantjane, oorhandig.