General

HFM netbalspanne vaar goed teen Lichtenburg

THABAZIMBI – Van tien netbalwedstryde het die Frikkies agt gewen en twee verloor teen Hoërskool Lichtenburg die afgelope naweek. Die HFM hokkie- en rugbyspanne het egter heelwat slegter gevaar. Slegs een hokkiewedstryd (uit 9) is gewen deur HFM en geen rugbywedstryde.
Die o/19 A en B-netbalspanne het hul wedstryde met onderskeidelik 18-10 en 17-2 gewen. Die o/17A-span het 16-8 gewen en die B-span het 6-11 verloor. Die o/16 A en B-span het ook gemengde welslae behaal. Die A-span het 11-6 gewen en die B-span het 7-12 verloor.
Al die ander netbalspanne het hul wedstryde gewen. Die o/15 A en B-spanne het gewen met onderskeidelik 15-13 en 11-7. Die o/14A-span het goed gewen met 23 doele teenoor 7 en die B-span het met ‘n kleiner oorwinning gespog van 14-12.
HFM se enigste hokkie-oorwinning was deur die tweede hokkiespan behaal toe hulle Lichtenburg met 2-1 geklop het. Die eerste span het 1-2 verloor en die derde span 0-1. Die o/16 A en B-spanne het verloor met geen doele teen onderskeidelik 3 en 4 doele van Lichtenburg. Die o/15 A en B-spanne het beide 0-3 verloor en die o/14-spanne het geen doele aangeteken teen die 8 en 6 doele van Lichtenburg se o/14 A- en B-spanne onderskeidelik.
Van die rugbywedstryde het die o/16B-spanne 0-0 gelykop gespeel. Al die ander spanne van Frikkie Meyer het hul wedstryde verloor, met heelwat spanne wat geen punte kon aanteken nie. Die eerste span het 11-25 verloor na ‘n halftydtelling van 5-5. Die tweede span het 5-11 en die derde span het 0-29 verloor. Die o/16 A-span het met slegs vyf punte verloor 0-5.
Die o/15 B-span het sleg verloor toe hul geen punte kon aanteken teen die 41 punte van Lichtenburg. Die A-span het 0-20 verloor. Die o/14 A en B-spanne het geen punte aangeteken teen die 17 en 34 punte onderskeidelik van die o/14 A en B-spanne van Hoërskool Lichtenburg.