Groot pryse op die spel by Wildspotjiekoskompetisie
THABAZIMBI – Reëlings vir vanjaar se Wildspotjiekoskompetisie, wat as deel van die Thabazimbi Expo aangebied word, is reeds sterk aan die gang. Die kompetisie word Saterdag 3 Mei vanaf 08:00 die oggend op die feesterrein aangebied met beoordeling vanaf 12:00 tot 13:30.
Die waarde van die pryse wat op die spel is, beloop meer as R7000. Indien geen Supermarkgroep na vore kom om hierdie pryse te borg nie, sal dit deur Die Kwêvoël, wat die kompetisie aanbied, geborg word. Indien u as hoofborg wil optree of kleiner pryse wil borg, kontak gerus vir Pieter Coetzee by Die Kwêvoël (014 777 1621 gedurende kantoorure).
Soos gewoonlik sal hierdie kompetisie steeds in die tradisie van die Wildsfees aangebied word waar wildsvleis die hoofbestanddeel in die pot moet wees. Gewildheid van wildsvleis neem daagliks toe veral oor die lae vet en goeie cholesterol eienskappe van die vleis. Dit is ook nie meer nodig om dit onder allerhande kruies toe te gooi soos wat die mense vanmelee gedoen het nie. Basiese kruie en speserye en bietjie oorspronklikheid werk uitstekend.
Net soos vorige jare gaan die kompetisie oor die pot en is dinge soos stalletjie uitleg gewoonlik deurslaggewend indien beoordelaars nie tot ‘n beslissing oor die wenpot kan kom nie. Dit gebeur nogal dikwels aangesien die standaard van die inskrywings baie hoog is. Moet egter nie dat dit jou afskrik nie, jou eerste probeerslag en daardie geheime resep in jou sak, kan jy dalk as wenner uit die stryd tree.
Die gewilde TV aanbieder en die stem agter “Skud jou biscuit”, Pieter Koen, gaan as een van die ere-beoordelaars tydens hierdie kompetisie optree. Hier kan jy reeds verseker wees van ‘n baie gesellige atmosfeer daar waar die potjies saamgeslaan word.
Soos gewoonlik bestaan spanne amptelik uit vier deelnemers maar ‘n hulpdeelnemer hier en daar kan toegelaat word. Ruimte word beperk, juis om die ander feesgangers meer beweegspasie om die potjies te gee. As gevolg hiervan is daar nie spasie om lapa’s om die pot op te rig nie.
Daar is egter genoeg spasie vir jou en jou familie en vriende om heerlik gesellig onder die lieflike koeltebome saam te kuier. Die beste is, hier kan hulle ‘n lekker kuierplek kry as hulle moeg geloop is na al die stalletjiebesigitiging op die feesterrein.
Daar word net vir ‘n beprekte aantal stalletjies voorsiening gemaak. Kry dus jou plannetjies en resepte reg en kom skryf in by Die Kwêvoël se kantoor in Tweedelaan Thabazimbi. Indien u van buite Thabazimbi is, stuur vir ons ‘n e-pos na kwevoel@kwevoel.co.za en ons sal ‘n inskrywingsvorm stuur. Meer inligting aangaande die Thabazimbi Wild en Teorisme Expo (Wildsfees) is ook op Die Kwêvoël se webblad – www.kwevoel.co.za