Sport

Gholf: Klubkampioenskappe swak ondersteun

THABAZIMBI – Die deelname aan vanjaar se Klubkampioenskappe was die swakste in die bestaan van die klub. As net sowat 8% van ‘n klub se lede aan so’n belangrike  kompetisie deelneem is dit betreurenswaardig.
Die baan is steeds in ‘n puik toestand, die weer was asof dit bestel was, net die spelers het ontbreek. As vyf van die spelers dames was en die helfte van die mans wat gespeel in Pretoria woonagtig is, is die afwesigheid van ons plaaslike mans-lede nog ‘n groter skande.
Jaco Prinsloo, wat tans aan die Universiteit van Pretoria studeer, het weer as die 2008 se kampioen uit die stryd getree met ‘n bruto-telling van 147. Toppie Olivier was kort op sy hakke met 150. Die netto wenners was Billy Pring (139) en Nico van der Westhuizen (144). Christo Rall (163) is die Veterane Kampioen. Nita Barnard (179 Netto) is die Dames Kampioen met Maggie Hoffmann (182) tweede. Baie geluk aan die wenners en baie dankie aan almal wat gespeel het, veral die lede wat so ver gereis het om hulle lojaliteit te toon.
Verlede Donderdag het die Waterberg Sages op Thabazimbi gespeel. Een van die spelers, oom Buhrmann Steenkamp, wat 90 jaar oud is, eindig tweede met 37 Stableford punte. Voorwaar ‘n prestasie. Baie jonger en gesonde sterk manne behoort van so’n prestasie kennis te neem.
Die Waterberg Sages se kampioenskappe word op 10 April gespeel. Dit gaan heel moontlik op die nuwe Euphoria baan net buite Naboomspruit plaasvind wat ‘n unieke geleentheid behoort te wees. Die baan is deur Anika Sorenstam, een van die wêreld se beste dames spelers, ontwerp. Onderhandelings is tans aan die gang en ons hou duim vas dat dit kan realiseer.