General

Waardasies eersdaags beskikbaar

THABAZIMBI – Teen die einde van Maart behoort waardasies van alle eiendomme in die Thabazimbi munisipale distrik, plase ingesluit, voltooi te wees.
Eienaars sal kennisgewings van die nuwe waardasies op hul eiendom teen middel-April ontvang. Waar eienaars nie kennisgewings ontvang nie, rus die onus op die eienaar om betyds die inligting te bekom. Die volledige waardasierol sal ook vir insae by Thabazimbi munisipaliteit, Thabazimbi biblioteek, Northam munisipale kantore, Leeupoort munisipale kantoor en Rooiberg munisipale kantoor beskikbaar wees vanaf 15 April.
‘n Maand word toelaat vir besware en die nuwe belasting word vanaf 1 Julie vanjaar gehef.
Die tariewe waarvolgens belasting betaal word, is nog nie deur die munisipaliteit vasgestel nie. Dit behoort teen dieselfde tyd bekend te word as wat die munisipale begroting vir die nuwe finansiële jaar voorgelê word, hopelik teen April. Dit sal egter nie noodwendig beskikbaar wees voordat die waardasie-kennisgewings uitgestuur word nie. Ook die tariewe sal vir insae beskikbaar wees by die munisipaliteit sodra dit eers beskikbaar is. Kennisgewing van die nuwe tariewe sal in die amptelike kennisgewings van Die Kwêvoël verskyn.
Volgens die waardeerder wat vir die Thabazimbi munisipale area aangestel is, Hennie Botha, is die doelwit dat waardasies regverdig is. Die doel is om plase en huise volgens hul markwaarde te waardeer. Tot dusver is waardasies op eiendomme in die dorp laas in Januarie 2003 gedoen. Volgens Botha sal aanbeveel word dat een tarief vir die hele Thabazimbi munisipale distrik vasgestel word, met ander woorde dieselfde tarief vir die plase, Thabazimbi-dorp, Northam, Koedoeskop, Rooiberg en Setaria. Indien die tarief volgens dieselfde formule as in die verlede bereken word, sal die eiendomsbelasting verhoog, maar daar mag aanpassings ten opsigte van die tarief wees. Die waardasies op eiendom moet elke vier jaar hersien word, met een ekstra jaar wat toegelaat word waar nodig. Munisipale eiendomme sal waardeer word met inagneming van alle verbeterings op erwe, die waarde van die geboue en die woonbuurt.
Die waardasies op plase word gedoen met behulp van lugfoto’s, katastrale inligting en inligting van die landmeter-generaal se kantoor. Die waardasieproses vind plaas met die samewerking van die boereverenigings, sê Botha. Die riglyne wat gebruik word, in die waardasie van plaasgrond, is die persentasie besproeiingsgrond, droë lande, die drakrag en toestand van die veld. Daarna word ‘n persentasie van die waarde toegevoeg vir verbeterings soos lodges, konferensiefasiliteite en koelstore. Boere se belastingaanslag is onderhewig aan rabatte (afslag) vir die afwesigheid van dienste soos water, paaie en riool. Die nuwe belastingbetalers, dus die plaaseienaars, se belasting word oor ‘n tydperk van vier jaar infaseer, met 25% van die belastingsbedrag wat in die eerste jaar, 50% wat in die tweede jaar en 75% wat die derde jaar betaal sal word.