General

Spin-a-Thon se wiele rol

THABAZIMBI– Die reëlings vir KANSA se jaarlikse Spin-a-Thon by die Thabazimbi Expo is op dreef en jonges, oues, fikses, onfikses en veral diegene wat omgee word genooi om hulle gereed te hou vir hierdie geleentheid.
Die Spin-a-Thon vind plaas op Saterdag 3 Mei, maar inskrywings word reeds ontvang. Spanne bestaan uit vier volwassenes of vier skoliere. Die uitdaging is om te sien hoe ver jou span kan “spin” in tien minute. En hoewel jy spin, gaan jy darem nie te ver nie… Alles gebeur by die KANSA-stalletjie tydens die Thabazimbi Expo by Thaba Park. Verrigtinge begin om 09:00 en ‘n tydgleuf kan bespreek word.
Pryse word toegeken in verskillende kategorieë, insluitende die vinnigste span, die vinnigste man en dame onderskeidelik en individuele naaswenners.
Die doel van die Spin-a-Thon is om ‘n gesonde en aktiewe leefstyl te bemark, wat ook deel van KANSA se benadering is, maar terselfdertyd om pret te hê. Gedurende die laaste drie jaar was die Spin-a-Thon ‘n reuse sukses. Nie net word broodnodige fondse vir KANSA ingesamel nie, maar die gemeenskap het ‘n fees in die proses.
Terselfdertyd gaan KANSA ook ‘n Shave en Spray-a-Thon aanbied, waar Expo-besoekers hulle hare kan laat skeer en sprei ten bate van KANSA.
Die inskrywingsfooie vir die Spin-a-Thon is R100 per persoon vir volwasse spanne, dus R400 per span, en R50 per persoon vir skoliere. Deelnemers aan die Spin-a-Thon kry gratis toegang tot die Expo vir daardie dag. Besighede en sportspanne word veral versoek om teenstanders uit te daag vir die Spin-a-Thon of die Shave en Spray-a-Thon. Ondersteuners van hierdie gebeurtenis stel KANSA in staat om op nasionale en provinsiale vlak weerstand teen kanker te verbeter.
Vir verdere navrae oor hierdie geleentheid, skakel Lize by 082 520 8455 of Melissa by 072 620 7897.