Kragopwekker vir Tambotie
THABAZIMBI – Noodsaaklike dienste soos hospitale en versorgingsoorde kan net nie sonder krag klaarkom ten tyde van kragonderbrekings nie. Daarom het die bestuur van Tambotie Versorgingsentrum die afgelope week ‘n 15 kVA kragopwekker gekry wat outomaties aanskakel as die elektrisiteit uitskop.
Die kragopwekker, ter waarde van R45 000, is gedeeltelik met donasies en gedeeltelik met Versorgingsoordfondse aangekoop. Die kragopwekker, wat buite aan die oostekant van die Tambotiesentrum geïnstalleer is, het ook sy eie paneelbord, afdakkie en tralies vir veiligheid. Laasgenoemde is deur Piet van Rooyen, bestuurslid van die Tambotie Versorgingsentrum, aangebring.
Volgens ds Dirk Laufs, voorsitter van die Tambotie Versorgingsentrum was dit chaos die afgelope tyd telkens as daar ‘n kragonderbreking was. Afgesien van die feit dat daar geen bedliggies, gangliggies of alarms was nie, raak die inwoners vreeslik ontsteld en verward ten tye van kragonderbrekings. En dan natuurlik het die kokery en wassery heeltemal stil gestaan in dié tye.
Die verkryging en installering van die kragopwekker was gedoen deur Sarel Pretorius, ondervoorsitter van die sentrum, wat so ver as Bronkhorstspruit gery het om die mees geskikte kragopwekker op te laai . Hy is dan ook vir die instandhouding verantwoordelik. Die volgende projek is om sonpanele te installeer vir die verhitting van giezers, sê Sarel. Bydraes vir dié doel kan gemaak word aan die Tambotie Versorgingsentrum, Eerste Nasionale Bank, tjekrekeningnommer 6211-650-3427.