Sport

Jukskei-uitslae: B en C Kampioenskappe

THABAZIMBI – Die B en C Jukskeikampioenskappe, waarby twaalf unies teenwoordig was, het van 25 tot 29 Februarie in Kroonstad plaasgevind. Limpopo, wat deur ses spanne verteenwoordig was, het gesamentlik tweede geëindig. Eerste was Gauteng-Noord en derde Namibië.
In die Dubbels het Fanus Genis en Kobus Maloney ‘n brons medalje in die Mans B-afdeling ontvang. Die Vroue-span het sewende geëindig, die Mans B het vyfde plek behaal, die Mans C-span was sesde, die Veterane 1 was agtste, die Veterane 2 was tiende en die Veterane 3 was dertiende.
Die Veterane-trofee in die gesamentlike punte is deur Limpopo gewen. Gesamentlike punte in die ander afdelings was Mans B – derde, Mans C – sesde en Vroue – vyfde.
Tien spelers het aan die proewe deelgeneem en van hulle het gekwalifiseer vir die Vyf Bestes, Res-span of Uitnodigingspan.
Fanus Genis, Dawid Naudé en Hennie van Zyl (leenspeler van WP) het die Vyf Bestes gehaal. Joyce du Preez en Niek Greyling is as afrigters verkies en Martie Nell as spanbestuurder aangewys van die Res-span. Vir die Uitnodigingspan teen Namibië is Daan Nell vir die Veterane-span en Christien Kloppers vir die Vroue-span gekies. Daan Botha is die afrigter.
Die keuring vir die SA’s vind op 8 Maart plaas by Mokopane om 08:00 op die bane van die Tarentale. Die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vind plaas van 7 tot 11 April in Kroonstad. Die SA Dubbels vind plaas op 5 April.