THABAZIMBI – Die nuwe nasionale TOPS (Threatened or Protected Species)-wetgewing, wat in werking getree het op 1 Februarie, bring groot verandering in die jagbedryf mee.
Hierdie wetgewing raak kritiek-bedreigde, bedreigde, kwesbare en beskermde spesies, soos wit en swart renoster, tsessebe, bastergemsbok, gewone rietbok, wildehond, jagluiperd, leeu, luiperd, bruin hiëna, tierboskat en sharpe se grysbok. Alhoewel grondeienaars provinsiale vrystelling ontvang het ten opsigte van hierdie spesies, word hulle nou deur nuwe nasionale wetgewing, genaamd TOPS-wetgewing, beheer.
Indien die grondeienaar enige van die bogenoemde spesies wil benut, met ander woorde wil aankoop, verkoop, jag ensovoorts, moet hy sy plaas laat registreer as ‘n wildsplaas. Die kriteria vir die aansoek is by alle natuurbewaringskantore beskikbaar. Aansoeke word na Polokwane gestuur vir evaluasie en uitreiking van permitte. So ‘n permit kos R1000 en is vir drie jaar geldig. Hierna moet die grondeienaar aansoek doen vir ‘n “Standing permit” wat hom magtig om hierdie spesies te benut sonder permit. Die koste van so ‘n permit is ook R1000 en is ook vir drie jaar lank geldig.
Indien enige van die TOPS-spesies deur enigiemand anders as die eienaar gejag word, moet ‘n jagpermit in die persoon se naam uitgemaak word. Dit kan op een van twee maniere geskied. Die eienaar kan ‘n permitboek (teen R500 vir 50) koop by enige natuurbewaringskantoor en self die permitte aan die jagters uitreik, óf individuele permitte kan by ‘n natuurbewaringskantoor uitgeneem word. Na afloop van die jag moet ‘n afskrif van die permit aan Polokwane hoofkantoor gestuur word en aan die einde van die jaar moet die eienaar ‘n verslag saamstel oor die aantal TOPS spesies wat op sy plaas gejag/benut is.
Wildvangers wat in TOPS spesies handeldryf moet ook registreer en ‘n permitboek aanskaf. Dieselfde geld vir instansies wat TOPS-spesies hanteer soos rehabilitasiesentrums, teelprojekte, kommersiële projekte (bv krokodilplase en slangparke) en navorsingsinstansies. Natuurbewaringskantore het volle besonderhede oor die TOPS-lys, kriteria en aansoekvorms.
Die TOPS-wetgewing is ook van toepassing op kwekerye. Waar kwekerye TOPS-spesies verkoop, moet die kwekery eers registreer en ‘n permit ter waarde van R1000 bekom wat vir drie jaar geldig is. ‘n Voornemende koper van ‘n TOPS-spesie word van ‘n permit deur die kwekery-eienaar voorsien wat geldig is vir een jaar. Hierna moet die nuwe eienaar van die plant elke drie jaar vir ‘n besitpermit aansoek doen.
