Geen krag, maar die straatligte brand
THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi wat oor die straatligte kla wat sommer deur die dag brand, het die versekering van die munisipaliteit dat daar so gou moontlik opgetree sal word om hierdie onnodige kragvermorsing stop te sit.
Maar dan moet almal help. ‘n Aantal ligte is gekoppel aan een sensor wat die ligte laat aanskakel wanneer dit donker raak en weer afskakel wanneer dit lig genoeg word. Wanneer die sensors nie werk nie, brand die ligte deur die dag.
Die elektriese afdeling van die munisipaliteit versoek dat hulle so gou moontlik in kennis gestel word wanneer straatligte deur die dag brand. Wanneer die klagte ontvang word, word ‘n werkkaart uitgemaak en aan die tegniese afdeling oorhandig. Afhangend van hoe besig, en waar die span besig is, sal daar nog dieselfde dag of die volgende oggend daaraan aandag gegee word.