Tribunaal gee groen lig vir gholfontwikkeling
THABAZIMBI – Die voorgenome ontwikkeling van die Meletsi Gholflandgoed, ‘n Jack Nicklaus-ontwikkeling, sowat 40 km oos van Thabazimbi en 30 km noordoos van Rooiberg op die oewers van die Sandrivier, het verlede Vrydag die groen lig van die Ontwikkelingstribunaal gekry.
Hierdie goedkeuring is veral noemenswaardig in die lig van die teenkanting wat van die Australiese mynmaatskappy, Aquila Steel, ondervind is omdat hy prospekteerregte (vir yster) op daardie grond, sowel as omliggende plase, bekom het. Volgens Aquila sluit die een ontwikkeling outomaties die ander uit. Aquila het ook aangevoer dat die Ontwikkelingstribunaal nie bevoeg is om ‘n besluit van hierdie aard te neem nie.
Die ontwikkeling van die gholflandgoed, waarvan die aanvoorwerk reeds drie jaar aan die gang is, het goedkeuring van, onder andere, die Thabazimbi Munisipaliteit, die Departement van Mineraal en Energie (DME) en die Departement van Landbou gekry. Buiten dié goedkeuring is waterbeskikbaarheidstudies, geologiese studies en omgewingsimpakstudies gedoen.
Die dispuut tussen die ontwikkelaars en Aquila het veral gegaan oor die goedkeuring wat van die DME vir die gholflandgoedontwikkeling in Desember 2006 ontvang is, omdat daar in Julie 2007 ook ‘n prospekteerpermit vir dieselfde grond deur die DME uitgevaardig is. Aquila het beweer dat die toestemming vir die gholflandgoedontwikkeling ‘n oorsig in die kantore van die DME was, ten spyte daarvan dat die DME in Januarie 2008 ‘n brief uitgereik het dat dit die bedoeling van die Minister van Mineraal en Energie was om goedkeuring vir die ontwikkeling te gee en dat die Meletsi Gholflandgoed-ontwikkeling uitgesluit moet word van die prospekteerpermit. Die Ontwikkelingstribunaal het egter besluit dat die goedkeuring van die DME geldig is, en dat daar geen materiële besware teen die ontwikkeling van die gholflandgoed is nie.
Hulle was tevrede met die verslae van kenners wat oor, onder meer die beskikbaarheid van water gepraat het. Die ondergrondse meer en geologiese samestelling van onderliggende klip- en rotsbanke maak dit een van ‘n paar unieke soortgelyke areas in die land met ‘n groot hoeveelheid beskikbare water. Deel van die ontwikkelingsplan behels dat rioolwater van die wooneenhede genoegsaam gesuiwer sal word om die gholfbaan te besproei. Geologiese studies het uitgewys dat daar wel dolomiet-areas is, maar die beplande behuising is weg van hierdie areas geskuif.
Die ontwikkeling behels dat daar eers konsolidasie van ‘n paar plase geskied en dan weer in kleiner behuisingseenhede verdeel word. Van die totale grondoppervlak van 4000 ha word slegs sowat 2% ontwikkel en die restant word geïnkorporeer by ‘n groter beplande bewaringsgebied van tussen 25 000 en 30 000 ha.
Daar word beoog om, onder andere, 423 huise, ‘n aantal groter en kleiner lodges, ‘n hotel, gholfbaan met klubhuis en perdrysentrum op die Meletsi Gholflandgoed te vestig.
Die enigste ander persoon wat beswaar teen die gholflandgoed-ontwikkeling aangeteken het, was ‘n buurman wat oor die visuele impak van die ontwikkeling gekla het, omdat hy ‘n lae digtheid-gastebehuising beplan vir sy grond.