Tot siens oom Francois
THABAZIMBI – Een van Thabazimbi-distrik se groot boere die afgelope dekades, oom Francois de Villiers, is op 11 Februarie op 78-jarige ouderdom, oorlede in die Kokanje-aftreeoord buite Nylstroom nadat hy ‘n beroerte gehad het.
Francois de Villiers was ‘n man wat groot spore getrap het in die ontwikkeling van bees- en wildboerdery en –bewaring. Hy was ‘n bekende figuur in die gemeenskap, waar hy bydraes gelewer het in die kerk en skole waar sy vier kinders, Marita, Arthur, Jozey en Petro, skoolgegaan het.
Oom Francois het matrikuleer aan die Rustenburg Hoërskool in 1947 en in 1951 ‘n B.Sc-Landbou-graad in Veeteelt en Landbou-ekonomie verwerf. In 1956 is hy getroud met Suzanne Wicht en vir 48 van hul 51 getroude jare het hulle op hul plaas Paris in die Rooibokkraal-omgewing gewoon, gearbei en geboer.
Francois het hom beywer vir georganiseerde landbou en was, onder andere, voorsitter van die Rooibokkraal Boerevereniging, sekretaris van die Thabazimbi Distrikslandbou Unie en voorsitter van die plaaslike Grondbewaringskomitee. Laasgenoemde het, onder meer, inligtingsdae gehou om boere meer te leer oor gras- en grondtipes, wisselweiding en selfs Hoërskool Frikkie Meyer is betrek deurdat die leerders take oor gras moes doen waarvoor pryse toegeken is.
Reeds in 1964 wen Francois in ‘n landswye kompetisie die Jim Fouche Groen Erfenis Trofee vir plaas- en werfontwikkeling. In daardie jaar was hy ook die eerste stigterslid van die Bonsmara Telersgenootskap, waarvan hy al die jare lid was totdat sy gesondheid later vereis het dat sy kudde verkoop word. Daarna het hy hom hoofsaaklik op wildboerdery toegespits.
Francois was op die TLU (Transvaalse Landbou Unie) Beestekomitee (later bekend as die Rooivleis Produsente Organisasie), die TLU Grond- en Veldbewaringskomitee en die TLU Wildskomitee. Hy was instrumenteel in die ontwikkeling van ‘n permitstelsel wat dit vir jagters moontlik maak om vlakvarkvleis te verwyder uit die rooilyngebied, dit te vervoer en bemark. Francois was ook die Thabazimbi Distrikslandbou Unie se verteenwoordiger by die De Wildt Jagluiperdsentrum. Groter betrokkenheid van ander instansies by De Wildt en die generasie van fondse is bewerkstellig en so het hy die jagluiperd help bewaar..
Hy is in 2000 aangewys as die Transvaalse Wildvereniging se Wildboer van die Jaar en hy was vir 23 jaar op die direksie van die Transvaalse Lewende Hawe (nou beter bekend as Vleissentraal).
Francois en Suzanne het hul seun, Arthur in 1980 aan die grens verloor. Hy laat sy vrou, drie dogters, skoonseuns en vier kleinkinders, Zani, Johan, Marissa en Suzanne, agter. Tannie Suzanne bly aan in Kokanje, waar hulle sedert Francois se aftrede in 2004 woon.