General

Honde in dorp vergiftig

THABAZIMBI – Die vierde hond sedert November verlede jaar is verlede week vergiftig en het amper met sy lewe geboet. Gelukkig kon Rex, die ligbruin basterhond van die Tullues van Knoppiesdoringlaan gered word.
Volgens Nicolene Tullues is daar reeds vier honde tussen hul straat en Agtste Laan vergiftig sedert einde verlede jaar. Een van dié honde is dood en die ander moes dringend behandeling ontvang.
Verlede Dinsdagoggend toe hulle opstaan kon hulle dadelik agterkom dat Rex nie homself is nie, vertel Nicolene. Hy het met groot moeite beweeg en moes homself staan maak teen die muur sodat hy nie omval nie. Daar was hondebraaksel wat geweldig baie na gif geruik het wat die vermoede laat ontstaan het dat die gif met blikkieskos gemeng is en in die erf geplaas is. Die veearts het dadelik die Tullues se vermoedens bevestig dat Rex vergiftig is met ‘n soort plaagdoder. Hy was vir twee dae by die veearts onder mediese sorg, maar sterk nou mooi aan by die huis, alhoewel hy nogsteeds nie eet nie, sê Nicolene.
Die Tullues het die saak by die Thabazimbi polisie aangemeld, maar hulle het aangedui dat die saak nie verder ondersoek sou word nie, omdat daar nie leidrade was om op te volg nie.
Die Thabazimbi polisie het  egter later verduidelik dat die saak ondersoek kan word sodra bewys is dat die hond vergiftig is. Voorheen was die polisie bekommerd dat die vergiftiging van honde deel was van die modus operandi van die Mathe-sindikaat wat grootskaalse diefstal gepleeg het. Aangesien Mathe egter in die tronk is, is daardie vermoede laat vaar. ‘n Ander moontlikheid is natuurlik dat daar mense is wat in die omgewing woon wat nie van honde, of hul blawwery hou nie, en hulle dan op hierdie pynvolle en lafhartige manier van kant probeer maak, sê polisiewoordvoerder kaptein Thapela.