Atlete maak gereed vir provinsiale proewe
THABAZIMBI – Tien atlete van Laerskool Thabazimbi en drie gewigstoot-atlete van Laerskool Dwaalboom neem Vrydag 7 Maart aan die Provinsiale Kampioenskappe in Polokwane deel.
Die leerlinge van Laerskool Thabazimbi het goed gevaar by die Streeks-atletiekbyeenkoms in Ellisras die afgelope naweek. Tien van die twaalf leerlinge wat deelgeneem het in Ellisras, neem oor twee weke in Polokwane deel. Slegs atlete van o/10-ouderdomsgroep en ouer neem deel. Atlete wat eerste, tweede en derde plekke by die Streeksbyeenkoms behaal het in veld- en baanitems neem deel aan die provinsiale kampioenskappe.
Anmarie Boshoff D o/12 was tweede in spiesgooi, Ryno Dumond S o/11 het derde plek behaal in Hoogspring en Bevan Strauss S o/12 het eerste en tweede plek behaal vir 100m en Verspring onderskeidelik. Danian Strauss S o/12 het derde gekom in die 150m H, Benita Erasmus D o/11 was tweede in Gewigstoot en Chrizaan Strauss S o/10 het eerste plek in Verspring en tweede plek in 70 m H behaal. Francois Buys was tweede in Hoogspring S o/10, Conré van Rensburg het derde plekke behaal in die 100m en 80m H en Bernè Mitton was derde D o/13 in Diskus. Allison Fourie D o/13 was derde in Spiesgooi, Tsiimiswa Nemavhola, S o/7 was eerste in die 80 m en Nadia van der Linde het aan die 80m D o/9 deelgeneem.
Die drie gewigstoot-atlete van Laerskool Dwaalboom wat aan die streeksbyeenkoms in Ellisras deelgeneem het, neem al drie aan die provinsiale proewe deel. ZW van Deventer (S o/11) en Johan van Deventer (S o/13) was weer beide eerste en Willem Henderson (S o/11) was tweede.