General

Zimbabwe wys meer op grondherverdelingsgevare

Die Zimbabwiese regering het 1449 van die plase wat oorspronklik van die blanke boere geneem is, weer teruggeneem van die eienaars wat dit sedertdien gehad het, omdat die plase leeg of onderbenut was. Dit het aanleiding gegee tot die voedselkrisis in Zimbabwe.
Die President van TLU SA, mnr Paul van der Walt, sê uit die Zimbabwe-gebeure is dit duidelik dat grondherverdeling sonder ‘n ekonomiese volhoubare meesterplan, rampspoedig vir ‘n land kan wees. “Zimbabwe het die blanke boere van die grond gejaag sonder om te dink aan die volhoubare voorsiening van voedsel en vesel aan die land en sy inwoners. ‘n Skamele agt jaar later moet die regering deur sy optrede, erken dat sy blote herverdelingsprogram ‘n mislukkig was,” sê mnr Van der Walt.
Mnr Van der Walt het weer eens ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om te leer uit die foute wat Zimbabwe gemaak het. Hy sê in Suid-Afrika word die grondherverdelingsprogram aangejaag, terwyl daar ook geen meesterplan is wat die volhoubaarheid in voedselvoorsiening gaan waarborg nie. Die AgriSEB-beleid voldoen volgens mnr Van der Walt nie aan so ‘n plan nie.