Jongeling wen Mercedes
THABAZIMBI – Johan Strydom van Thabazimbi wat Saterdag ‘n Mercedes C180 Kompressor in ‘n kompetisie, wat deur LG en Russells aangebied is, gewen het, is maar 23 jaar oud! Meeste mense wat so iets kan bekostig is bietjie langer in die tand en moes ‘n paar jaar lank skouer aan die wiel sit om so ‘n rydingetjie te kan bekostig.
Johan se prys, ter waarde van meer as R330 000, is Saterdag tydens ‘n seremonie by Russells, Thabazimbi aan ‘n niksvermoedende Johan oorhandig. Hy is meegedeel dat hy Saterdag by Russells moes wees omdat hy twee televisiestelle sou wen. Daardie twee televisiestelle was toe eintlik ‘n Mercedes en Johan glimlag nog sedertdien eenstryk-deur. Sy eerste reaksie toe hy hoor, en uiteindelik glo, dat hy die motor gewen het, was om die Nissan pet van sy kop af te haal en weg te steek, vertel Johan, ‘n Nissan-eienaar. En soos bekend, gaan mans en motors maar saam en teen Maandagoggend was Johan al Rustenburg toe en terug met sy nuwe wiele.
Ongelukkig kan hy nie die motor bekostig nie, sê Johan, ‘n nutsman wat kontrakwerk vir die myn doen. Hy het die wyse besluit geneem om dit in te ruil vir ‘n kleiner voertuig, wat ligter op brandstof is en waarvan die dienste meer bekostigbaar is. En buitendien het hy net genoeg plek nodig in sy motor vir hom en sy meisie, Corné Visser.
Johan het gekwalifiseer vir die motor-kompetisie toe hy ‘n LG plasma-televisie by Russells in Thabazimbi gekoop het tussen 15 Desember 2007 en 15 Januarie 2008. Dit was ‘n landswye kompetisie wat LG en Russells saam aangebied het en die trekking is op 19 Januarie 2008 in Johannesburg gedoen.
Ander pryse is ook Saterdag tydens die verrigtinge gewen. Een van die Steel Wings-lede, Lizahn Anderson van Thabazimbi het twee uitgelote pryse gewen, ‘n LG mikrogolfoond en hoëtrou-stel.