Deurvoerkantoor’ vir bouplanne ‘n groot stap vorentoe
Die Johannesburgse metro se bekendstelling van sy Metrolink-sentrum vir die vinnige verwerking van bouplanne is ‘n belangrike stap vorentoe in die poging om eiendomsontwikkeling makliker te maak.
Die stelsel, wat glo daartoe gaan lei dat bouplanne binne drie werksdae goedgekeur gaan word, behoort ook deur ander metros ingestel te word, sê Gerhard Kotzé, uitvoerende hoof van die ERA Suid-Afrika eiendomsgroep.
“Die stelsel kan egter verbeter word – ander komponente in die goedkeuringsproses, soos allerbelangrike krag- en waterdienste, en hersonering word steeds afsonderlik hanteer. Dit laat die vraag ontstaan hoekom alle goedkeuringsdienste nie by ‘n enkele oorkoepelende departement ingelyf kan word nie.
“Die metros behoort die heersende verposing in die mark te benut om oorkoepelende goedkeuringsafdelings op die been te bring voor die volgende oplewing in die mark.
“Dit kom neer op kostedoeltreffende lewering van eiendomsvoorraad – maar die heersende hoë inflasie in boukoste het baie te make met vertragings in die goedkeuringsproses vir nuwe ontwikkeling.
“Dié ‘houkoste’, soos dit in die bedryf bekend staan, beïnvloed pryse van wooneenhede, wat op sy beurt die beskostigbaarheid van huise beïnvloed.
“Die vraag/aanbod/tydsduur-verhouding is dus nie in ewewig nie en kan bydra tot eiendomsprysinflasie.
“Benewens die goedkeuring van bouplanne, wat nou in die Johannesburgse Metrolink-diens gesentraliseer is, behoort regsprosesse, beplanning vir massa infrastruktuur en alle aansoekgoedkeurings by ‘n vaartbelynde goedkeuringsproses ingesluit te word.
“‘n Tekort aan vaardighede is ‘n ooglopend knelpunt, maar Metrolink word na wat verneem word deur bykomende personeel beman – wat bewys dat vaardighede wel gevind kan word of mense opgelei kan word indien die wil om dit te doen, bestaan.
“In ‘n breër konteks moet daar duidelike riglyne oor alle sake rakende goedkeuring saamgestel word, goedkeuringskriteria behoort in alle provinsies gestandaardiseer te word, groter delegering moet bewerkstellig word in pleks van die huidige beheer wat hoogs gesentraliseerd is en waarskynlik die belangrikste, kapasiteit in ingenieursdientse moet verbeter word.”