Elana Greyling
LEPHALALE – Soms voel dit of die aanslag op die boerderygemeenskap uit alle oorde kom.
Met kragonderbrekings, droogte (Limpopoboere wag nog op 2007 droogtehulp), vloede, gesteelde Telkom kabels, eiendomsbelasting, verbrokkelende paaie en waterbronbestuursbelasting, lyk die prentjie soms donker. Maar lede van Agri Lephalale het onlangs hul eerste vergadering vir 2008 gehou en daar is reeds groot planne vir die jaar.Die vergadering het besluit om die bul trompop van voor af storm te loop, heel diplomaties, natuurlik. Na tientalle oproepe aan Telkom, is uiteindelik by ‘n antwoord uitgekom. Boere in die Tolwe-omgewing sit reeds sonder telefoonverbindings sedert Augustus verlede jaar. Baie van hierdie boere is betrokke in die toerisme bedryf en dit beteken dat hulle gaste nie meer via internet kan bespreek of kommunikeer nie. Derduisende rande is reeds so verloor. Daar sal nou met Eskom op nasionale vlak via Agri SA gekommunikeer word en verteenwoordigers van Agri Lephalale sal ook hierdie vergadering bywoon.
Tydens ‘n vergadering met die munisipaliteit onder leiding van mnr Tienie Loots en verteenwoordigers van Eskom, is ‘n rooster opgestel wat inwoners waarsku om gereed te wees vir moontlike kragonderbrekings. Dit stel boere in staat om te beplan vir aktiwiteite soos besproeiing en verkoeling.
‘n Vergadering is laat verlede jaar gehou met die hoof van Eskom Transmissie se Aankope afdeling, me Bronnwynn Stolp. Grondeienaars van so ver as Makoppa en Sentrum het kom saamgesels oor die bginsels van onderhandeling. Die koms van ‘n reuse netwerk van Kraglyne dreig al sedert November 2005 om die bosveld te ontsier. In die lig van die land se huidige energiekrisis, is dit duidelik dat hierdie ontwikkeling broodnodig is en nie verhoed sal kan word nie. Boere voel egter dat die speelveld gelyk gemaak behoort te word en dat almal gelykmatig en regverdig vergoed moet word vir die grond, die verlies in herverkoopwaarde en veral die verlies in inkomste in hierdie toerisme gebied. Geen jagter wil duisende km’s vlieg om onder kragdrade te kom jag nie! Beginsels vir onderhandeling is bespreek en daar is tot ‘n vergelyk gekom. Op die huidige oomblik staan alle onderhandelings stil omdat daar gewag word op die Departement van Mineraal en Energiesake
Eiendomswaardasies word tans in die gebied gedoen met die oog op die implementering van die nuwe wet op Eiendomsbelasting. Hiervolgens word grondwaarde sowel as verbeterings waardeer en belas. Dit beteken dat plase wat ontwikkel is, ‘n dramatiese hoër waarde sal toon en dus baie meer belasting sal moet betaal. Volgens mnr Francois van den Berg is dit uiters noodsaaklik dat boere na die waardasierol moet gaan kyk wanneer dit bekendgestel word. Daar is ‘n kritieke dertig dae periode vir aanmelding van enige foute op waardasies wat boere moet gebruik.
Lephalale het ook onlangs deurgeloop onder vloede van verskeie riviere wat grootskaalse skade aan damme en gesaaides veroorsaak het. Daar word tans ‘n opname gedoen in die gebied om die impak te bepaal.
‘n Plaaswerker van die Jaar kompetisie is verlede jaar reeds in samewerking met die Departement Landbou en ander organisasies geloods. Die inskrywings sluit middel Februarie en alle boere word uitgenooi om hulle werknemers in te skryf. Daar is groot pryse op die spel en die kompetisie is spesifiek daarop gemik om erkenning te gee aan hierdie werknemers wat so dikwels tussen boere en regeringsbeleid moet staan. Die oorhandiging sal plaasvind op 10 April.
Ledewerwing is ‘n groot projek vir 2008. Gaste word uitgenooi na die volgende vergadering wat beplan word vir 18 Maart om 11:00. Dr Theo de Jager, president van Agri SA kom die bosveld se gasvryheid op die proef stel.
Fondsinsamelingsprojekte word beplan vir later in Oktober. Opwindende planne is in die pyplyn. Dit beloof om ‘n jaar vol aksie en opwinding te wees. Engie vrae kan gerig word aan die kantore van Agri Lephalale by 014-7631888.
