General

Verrassing wag op Thabazimbiër

THABAZIMBI – Môre, Saterdag 9 Februarie, gaan een van Thabazimbi se inwoners, hy/sy weet nog self nie wie dit is nie, ‘n Mercedes C180 Kompressor ryker wees. Hierdie persoon sal Saterdag, ongeveer 2 uur, by Russels in Thabazimbi aangekondig word.
Dit is alles deel van ‘n landswye kompetisie waarvoor almal kwalifiseer wat LG-produkte by enige Russels-winkel tussen 15 Desember 2007 en 15 Januarie 2008 gekoop het. Die trekking is op 19 Januarie in Johannesburg gedoen. Dit het ‘n Thabazimbiër te beurt geval om hierdie groot prys te wen.
Die amptelike oorhandiging gaan te midde van feestelike aktiwiteite gedoen word en die hele dorp word genooi om dit by te woon. Eregaste van die Departemente Gesondheid en Onderwys sal teenwoordig wees en die oorhandiging word deur Thabazimbi se burgemeester, mnr Lucas Matlou, gedoen. Die Harley Davidson-klub onder leiding van Tony Anderson gaan sorg vir ‘n skouspel wanneer hulle met hul motorfietse ‘n optog deur die strate van Thabazimbi hou. Gelukkige besoekers sal  mikrogolfoonde, televisiestelle en DVD-stelle wen in trekkings en daar gaan vleis gebraai word en sommer net lekker gekuier word. ‘n Kulkunstenaar, Johan Yssel, gaan ook optree. Verrigtinge duur van 11 uur tot 3 uur.
Die enigste inligting wat Jan Matthysen, bestuurder van Russels, bereid is om oor die motorwenner bekend te maak, is dat die persoon ‘n plasma-televisiestel by een van Russels Thabazimbi se verkoopskonsultante, Jakob Mathabatha, gekoop het en dat hy/sy wel ‘n bestuurderslisensie besit. Die res sal moet wag tot môre.